Almal moet bydrae tot groei van toerisme
CALLIE Botha van Tzaneen skryf: Ek lees die afgelope paar weke met groot belangstelling berigte in die HERALD oor groei in toerisme in die omgewing, die beplande toerisme-konferensie en veral die groot groei wat by Phalaborwa Copper beplan word en waar 'n verwagte 3 000 nuwe aanstellings gemaak gaan word.
Dit alles gaan ongewtyfeld ‘n positiewe groei vir ons omgewing meebring en ek haal my hoed af vir almal wat harde werk doen en ure opoffer om ons omgewing beter en lekkerder te maak.
Ek het egter ook ‘n paar kwelvrae. Is almal regtig toegewyd en verbind tot die groei in toerisme en alles wat daarmee gepaard gaan?
Eerstens is ons paaie nog ‘n groot bron van kommer. Die tyd van die jaar neem slaggate byna daagliks toe en dit lyk nie asof daar veel onderhoud gedoen word nie.
Die beste nuus is dat die groot vragmotors nie meer van Phalaborwa af Maputo toe ry nie, maar die paaie in die Mica-omgewing is steeds beroerd.
Dit gaan verder. Ek was onlangs vir die eerste keer in ‘n lang tyd in die Tzaneng Mall en was geskok oor hoe die sentrum agteruit gaan. Roltrappe werk nie, die sentrum is vuil en skynbaar maak winkels oop wanneer hulle wil en nie volgens die voorskrifte op die aanwysingsborde by die sentrum nie.
Dis maar een voorbeeld. Gaan kyk hoe lyk dit by die De Marillac skiereiland langs die Tzaneendam.
Dit kan die gewildste oorstaanplek vir woonwaens in die hele Limpopo wees. Tans is die fasiliteite gehawend en verniel en geen onderhoud word gedoen nie. Ergste is, niemand gee blykbaar om nie.
Toerisme is ongewtyfeld Tzaneen en omgewing se paspoort tot groei en ekonomiese welvarendheid vir almal – nie net vir toerisme rolspelers nie. Maar dan moet almal inkoop en saamwerk en insette lewer.
Terwyl die klomp negatiewe, afbrekende kritici op die kantlyn staan en niks goeds bydra nie gaan dit ‘n verlore stryd wees om Tzaneen op die ekonomiese wenpad te plaas.



