Local newsLocal sportNewsSport

Letaba seëvier na taai wedstryd

Letaba en Noordelikes het verlede naweek op Letaba se tuisveld met drie spanne kragte gemeet en vanaf die eerste wedstryd was dit duidelik dat daar geen genade vir mekaar gegee gaan word nie.

Letaba se eerstespan het in ‘n uiters taai en spannende wedstryd met 27-24 geseëvier en het ‘n groot terugslag goed verwerk toe die heelagter, Ruan Roets kort voor die wedstryd moes onttrek. Sy seisoen is verby met die soveelste speler wat Letaba vanjaar met ‘n besering verloor en word hy sterkte toegewens.

Noordelikes was vinnig uit die blokke met twee drieë en met die telling op 12-0 was menige Letaba ondersteuner bekommerd, maar het Letaba se gedugte pak voorspelers hulle ritme gevind en Noordelikes begin aftakel met kragtige skrumwerk en met verwoestende kortdrywe met JP Schwarz, Quinten Kruger en Scheepers Lubbe aan die voorpunt daarvan.

Glen Mafumo het koning gekraai in die lynstane en Albertus Seegers het die druk volgehou op Noordelikes toe hy Marnus Labuschagne in die tweedehelfte vervang het.

Deano Kruger wat halftyd opgedraf het as losskakel het Noordelikes met lang skoppe begin vaspen in hulle eie gebied en Letaba was duidelik die sterkste span op die veld. Wat Letaba die tweedehelfte skielik verkeerd gedoen het is nou nog onduidelik, aangesien die skeidsregter skielik sy mes vir Letaba ingehad en strafskoppe het op Letaba begin neer reën.

Die tuisskare wat in groot getalle opgeruk het om hulle span te ondersteun, het luidkeels hulle misnoeë te kenne gegee en dit was soos olie op die vuur vir die skeidsregter. Hy het mildelik strafskoppe uitgedeel vir Noordelikes.

Letaba het egter karakter getoon en met verbete verdediging Noordelikes van hulle doellyn weggehou en kaptein, Sven Hedin wat op senter moes uithelp, het die oog gevang met reuse duikslae. In ‘n wedstryd waar die tweedehelfte vyf minute langer geduur het as normaalweg het Letaba daarin geslaag om Noordelikes se aanslag op hulle doellyn te stuit.

Spesiale vermelding moet aan Letaba se puik pak voorspelers gemaak word naamlik: Picaso Coetzer, JP Schwarz, Tulani Mathonsi, Maer Marnus Labuschagne, Eben Fichardt, Scheepers Lubbe en Quinten Kruger wat hulle groot opponente laat swaar trek het. Daar was bitter min aanvalsgeleenthede vir die agterlyn aangesien Letaba die bal voor gehou het. Die nuwelingvleuel, Danie Erasmus, het ‘n stewige debuut vertoning gelewer en is hy ‘n aanwins vir die klub.

Deano Kruger is aangewys as speler van die wedstryd en alhoewel hy slegs een helfte gespeel het, het hy met sy puik taktiese skopwerk en lang lynskoppe Letaba in ‘n moeilike tweedehelfte in die wedstryd gehou.

Quinten Kruger, Glen Mafumo en JP Schwarz het elk ‘n drie gedruk vir Letaba 1 en Leroy Ndlovu het die res van die punte met die skopskoen bygedra.

Letaba se tweedespan het ongelukkig die onderspit gedelf met 21-13 en weer eens het ‘n omstrede skeidsregters beslissing Letaba die wedstryd gekos waar ‘n drie toegeken is wat duidelik ‘n aanslaan was.

Die tweedespan begin egter nou as ‘n goeie eenheid saamspeel aangesien die baie beserings waarmee Letaba sukkel dit moeilik gemaak het vir die span. Verskeie spelers moes kort-kort uit posisie speel. Die flank, Wikus Steyn, wat weer eens op senter moes uitdraf is aangewys as speler van die wedstryd en hy het net soos Sven Hedin in die eerstespan, groot indruk gemaak met sy verdediging en omgekeerde besit wat hy bewerkstellig.

Hy is goed ondersteun deur sy kaptein, Bennie (Betroubaar) Kruger, Alwyn van der Lith, Jacques Griesel en Jacques Louw. Die voorry, Jacques Borcherds, moes die veld ongelukkig vroeg verlaat met ‘n besering. Spesiale vermelding moet gemaak word van Tiaan Posthumus wat ‘n volle wedstryd in die derdespan gespeel het en daarna nog klipharde wedstryd vir die tweedespan gespeel het. Die losskakel, Marnu Bezuidenhout het die oog gevang met puik balverspreiding en heelagter, Lenis van Rooyen was rotsvas onder die hoë balle waarmee Noordelikes hom gepeper het.

Die vleuel, Brandon Ramotsama het ‘n puik drie vir Letaba gedruk en Marnu Bezuidenhout het vir die res van die punte met sy skopskoen gesorg.

Letaba se derdespan het met 10-05 geseëvier in hulle taaiste kragmeting van die jaar. Die span is nog oorwonne en speel puik hardlooprugby. Terblanche Vorster is aangewys as speler van die wedstryd en Miguel Dosramos en Heinrich Pohl het die oog gevang met hulle hoë werkverrigting. Wentzel Geldenhuys het weer eens met sterk lopies sy teenstanders probleme besorg.

Vir Letaba se derdespan het Heinrich Pohl gedruk wat Devon Robson vervyf het. Die veteraan, Gerhardus Geldenhuys het gewys dat daar niks met sy skopskoen verkeerd is nie en het hy geslaag met ‘n strafskop.

Letaba speel hierdie naweek weer tuis met drie spanne teen die Black Panthers. Wedstryde begin om 15:00 en ondersteuners word vriendelik uitgenooi.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button