Local newsNews

Om gister vandag toe te bring

Tyd staan vir niemand stil nie. Trappe word uitgetrap, herinneringe waai weg soos stof in die wind. Die grondpaaie van mens se verlede word eers verweer, dan geteer en voor jy jou kan kry, het 'n blik oor jou skouer maar dieselfde uitsig as een vorentoe.

Soms gebeur dit egter, dat mense vir ‘n oomblik die gejaag na die moderne lewe en sy geldelike suksesse opsy skuif en iets uit die verlede gaan haal, om lewensasem daarin te blaas en dit weer gestalte te gee.

So was dit ook verlede Dinsdag by Mahela, net buite Letsitele, toe die Vorster familie hul herboude Ruston-enjin aan genooide gaste en vriende bekendgestel het.

Pieter Vorster het verrigtinge geopen en daarna het Edward Vorster die teenwoordiges op ‘n nostalgiese reis na die verlede geneem. Sy oë, blink van die besoek aan sy kinderdae, het opgehelder elke keer wanneer hy na die (nuwe) ou Ruston verwys het.

“Hierdie masjiene het ons wêreld mak gemaak,” het Vorster gesê, voor hy bygevoeg het “julle jong manne van vandag het nie ‘n idee van die uitdagings wat die ou boere destyds in die gesig gestaar het nie en masjiene soos hierdie Ruston was dikwels die verskil tussen ‘n streek se landbou sukses of mislukking.”

By die spesiale vertoonkamer wat vir die Ruston gebou is het almal, gewapen met ‘n glasie vonkelwyn, vir ‘n rukkie stilgestaan.

Die ouer garde onder die gaste se oë was op ‘n ver pad gerig. ‘n Pad wat die jongeres vir nog lank nie sal kan sien nie. Heimwee was ‘n sterk band op daardie oomblik.

‘n Band wat die geselskap vir een oomblik aan mekaar gebind het. ‘n Band wat ons verlede vir ‘n rukkie ons hede gemaak het.Frans Meintjes, die man verantwoordelik vir die herstel van die Ruston, is deur Vorster geloof vir sy harde werk oor ‘n lang tydperk.

Volgens Meintjes was die herstel van die ou enjin ‘n enorme uitdaging, aangesien baie van die onderdele nie meer gemaak word nie, of van oorsee af ingevoer moes word. Skielik was die oomblik daar.

Edward Vorster en Meintjes het die lint geknip en die Ruston kon aangeskakel word.

Frans Meintjes het die deur oopgemaak en die vertoonkamer binne gegaan om die enjin aan te skakel.

Wat vir hom ‘n paar senuweeagtige sekondes moes wees, het verby getik en skielik het die rakka-ta ruk-geluid van ‘n Ruston-enjin, wat vir die eerste keer in dekades asem skep, die werf gevul.

Die gaste het spontaan uitgebars in applous en plek-plek het mense amper sigbaar die verlede soos ‘n kombers om hulle gevou.

Ou mans het daardie welbekende geluid uit hul kinderdae gekoester en breë glimlagte was ‘n dun skilletjie wat die trane van onthou op hok gehou het.

Die Ruston is miskien nie meer vandag ‘n produktiewe lid van die Vorster familie nie, maar hierdie wonderlike ou masjien verdien beslis sy plek op ‘n moderne plaaswerf in hierdie wêreld. Hierdie wêreld wat hy help tem het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button