Editor's choiceLocal newsNews

26 jaar is ‘n lang tyd

Dis 2 Februarie 2016. Die jaar van munisipale verkiesings. 'n Jaar vol modder wat heen en weer trek en op al wat 'n nasionale koerant is se bladsye beland.

Dis die jaar van internet rassisme en stemmers wat wens dat ander stemmers tog hierdie keer rég sal stem.

Dis Musi Maimane se beweerde FW kuiertjies en ‘n splinternuwe Super Rugby reeks.

Die jaar waarin ons O/19 nasionale krieketspan nie die uitkloprondes van die O/19 Wêreldbeker kon maak nie en ook die jaar waar ons nasionale span met te veel brand op die wange hul toetsreeks teen Engeland afgesluit het.

Dis plaasaanvalle en vallende Rande. Kruistogte en emigrasie.

Dis duur Duitse motors in parlementêre parkeerplekke. Dis vir meeste van ons elke maand ‘n geval van te veel maand oor aan die einde van jou geld. Kos word duurder en salarisse bly dieselfde.

Dis minimumlone en maksimum werk.

Ou mense wat alleen die laaste draaie van hul lewens in sub-standaard ouetehuise spandeer.

Kinders in Limpopo wat dakloos en sonder skoolboeke die toekoms in droom. Dis ‘n jaar van gebreekte beloftes en verskietende sterre.

‘n Jaar van toesprake en papbande terwyl bloulig brigades skreeuend verby jaag.

Dis nog ‘n jaar van tolhekke en slaggate. Hierdie jaar wat herinneringe bring.

Herinneringe van ‘n ander tyd.

‘n Tyd vol drome en beloftes.

Die silwer wat eens op ‘n tyd aan die wolkrant gekleef het.Die silwer wat ons leiers, lagie vir lagie van die wolke probeer skraap het.

Aan al hierdie dinge dink ek, as dit my byval dat oud President FW de Klerk vandag, presies 26 jaar gelede, ons Madiba se vrylating aangekondig het.

26 jaar gelede. ‘n Jaar korter as wat Nelson Mandela in die tronk was.

En ek onthou hoe daardie een ou toesprakie so baie dinge verander het.

En ek wens ons kon weer so voel.

Vry.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button