Uitreik van skipper lisensies in warboel
Die uitreik van skipperslisensies vir see, sowel as damme, is tans in 'n warboel in die Limpopo Provinsie.
Volgens ‘n plaaslike inwoner, Louis Lingenfelder, moes hy drie jaar wag na hy die praktiese opleiding ontvang en die toets afgelê het voor sy lisensie uiteindelik uitgereik is. En dit eers na hy baie druk geplaas het op die kontrakteurs (SADSAA) wat namens die regering die uitreiking van lisensies hanteer. Lingenfelder het hom aanvanklik tot die mense van SADSAA (South African Deep Sea Angling Association) gewend om uitsluitel oor die status van sy aansoek te probeer verkry.
Volgens ‘n werknemer van SADSAA was dit bloot ‘n geval van hoe lank die proses neem en is al sy relevante dokumentasie reeds aan SAMSA (South African Marine Safety Association) oorhandig. Na verdere ondersoek het Lingenfelder in kontak gekom met die mense van SAMSA. Hulle kon egter geen spoor van sy aansoek vind nie.
‘n Verdere poging om weer by SADSAA reg te kom, het laat blyk dat die persoon wat voorheen met hierdie lisensies gemoeid was, nie meer by hulle werksaam was nie. ‘n Nuwe werknemer het hom egter gehelp en sy lisensie is uiteindelik uitgereik.
Hierdie skipperslisensie kan ‘n aspirant skipper duur te staan kom.
‘n Gewone skipperslisiensie vir damme kos R1 800 terwyl dit jou R6 000 sal kos as jy voortaan self op die see wil gaan rondrits.
In ‘n bekende Suid-Afrikaanse tydskrif se Januarie uitgawe het die vrot patats een vir een uit die sak begin rol.
Die redakteur van die tydskrif het in sy opinie-stuk deeglik uitgewei oor die ernstige ongerymdhede wat in Limpopo aan die gang is, wat die uitreik van skipperslisensies vir beide see en damme betref.
Volgens die stuk blyk dit dat die gelde in baie gevalle nie aan SAMSA oorbetaal te word nie.
Ook dat daar ‘n moontlikheid bestaan dat vals lisensies aan mense uitgereik is. Verder het SAMSA na bewering reeds ‘n saak by die SAPD se Handelstak aanhangig gemaak.
Na verskeie probeerslae kon die Herald teen saktyd steeds nie daarin slaag om die man in beheer van SAMSA, Geof Wanvig, in die hande te kry nie. Inwoners wat self wag vir die uitreik van hul skipperslisensies is welkom om SAMSA direk te skakel by 012 996 9007 en vir Storm te vra.
Volgens Louis Lingenfelder het Storm hom gehelp om sy probleme uiteindelik uit te sorteer.
Paul du Toit, ‘n lid van die Letaba Skiboot Klub, sê: “Ons is bewus van die situasie. Ook dat daar ‘n saak by die SAPD se Handelstak aanhangig gemaak is. Ons kan net nie in hierdie stadium van die geveg kommentaar lewer op ‘n Polisiesaak wat nog ondersoek word nie.”



