Waterbesparings help tog
Vir hierdie kommunikasie word gefokus op die effek van die droogte op die Tzaneendam, alhoewel die Ebenezerdam ook binne die staatswaterwerk-gebied van die Letaba Water Gebruiker Vereniging(LWGV) val.
Vanaf 1 April 2015 het die self opgelegte bedryfsreëls van die LWGV, lae reenval en die dalende damvlak tot gevolg gehad dat die LWGV onttrekking aangepas het na 50% van toegelate onttrekking, ten spyte daarvan dat geen beperkings op daardie stadium deur die regering ingestel was nie en die LWGV dus amptelik 100% van hulle toekenning mag onttrek het.
Met ingang van 1 September 2015 het die regering amptelike beperkings ingestel op, onder andere, onttrekkings stroom-af van die Tzaneendam; 35% inperking (mag 65% onttrek) op landboutoekennings en 10% inperking (mag 90% onttrek) op huishoudelike/industriële toekennings. Die LWGV het egter voortgegaan met die 50% inperking op sy onttrekkings.
Die LWGV het die konsultant wat hulle bystaan met modellering van toekomstige verwagte waterbeskikbaarheid vanuit die Tzaneendam gevra om, benewens die gebruiklike verslag, ‘n addisionele kurwe op die verslag te plaas om die effek van die LWGV se vrywillige inperkings te kwantifiseer en die effek daarvan op die Tzaneendam se watervlak aan te toon.
Die pertinente aspek van die verslag is dat indien die LWGV vanaf 1 April 2015 sy 100% onttrekking opgeneem het en eers op 1 September 2015 ingeperk was na 65% onttrekking, die Tzaneendam se watervlak aan die einde van Desember 2015 op 10% sou wees, vergeleke met die ongeveer 40% wat dit wel was. Die vrywillige inperking van die lede van die LWGV het dus veroorsaak dat die damvlak ongeveer 30% beter daaraan toe was gegrond op werklike data; wat die vooruitskatting betref, is dit waarskynlik dat die dam leeg sou wees teen einde Februarie 2016.
Verder is die verwagting ook dat die huidige inperking wat die LWGV handhaaf wesenlik sal bydra tot verlangsaamheid van die Tzaneendam se dalende watervlak, indien in vloei in die dam nie die laagste vloei in geskiedenis oortref nie.
Op die bestuursvergadering van die LWGV wat gehou is op 29 Januarie 2016 is daar besorgdheid uitgespreek oor die verswakkende toestand van boorde en die vooruitsigte om ‘n oes in hierdie jaar te produseer al dan nie. Daar is gevolglik besluit om voort te gaan met die 50% inperking tot die volgende geskeduleerde vergadering van 18 Maart 2016 met die voorbehoud dat, sou omstandighede drasties verander, die besluit vroeër in heroorweging geneem sal word.



