TZANEEN: Tonne ZZ2 tamaties sorg vir rekord oes
ZZ2 het met 'n oes van 899 ton tamaties geskiedenis gemaak en alle rekords oortref!
Tamatieproduksie is afhanklik van die weer en verlede week het goeie toestande daartoe gelei dat ZZ2 ‘n rekordsyfer tamaties op een dag aan varsproduktemarkte landwyd kon lewer.
845 ton tamaties, die meeste nog in die maatskappy se geskiedenis, is op 18 Oktober met 28 dubbelwa en verkoelde vragmotors na markte in Johannesburg, Pretoria, Durban, Kaapstad, Bloemfontein, Kimberley, Klerksdorp, Welkom, Kimberley en Port Elizabeth, Vereeniging, Pietermaritzburg en Oos-Londen vervoer.
Die vorige dag is rekord pluk-en-paksyfers behaal om die groot dagoes van die landerye te haal en te pak.
‘n Dag later, op Woensdag 19 Oktober, is die rekord weer verbeter toe 899 ton gelewer is.
Dié rekords sluit ZZ2 se volledige tamatievariëteit-aanbod in wat onder meer die klassieke ronde tamatie, klein Romanitas en die gewilde rankietamaties insluit.
Die vorige beste lewering was in Augustus vanjaar in die Soutpansbergarea.
Lewering aan supermarkte en plaaslike markte is nie by die tonnemaat ingesluit nie.
ZZ2 beoefen Natuurboerdery® wat voorsiening maak vir roterende seisoenale produksie-eenhede. In die lente en herfs skuif produksie na die vrugbare Mooketsi-vallei waar matige weersomstandigede vir dié tyd van die jaar geskik is vir verbouing. In die winter word aanplantings noord van die Soutpansberg gedoen en in die somer skuif dit na die Polokwane-omgewing. Sodoende word daar heeljaar tamaties aan markte gelewer.
In die laaste jare het ZZ2 in die beskermde verbouing van tamaties belê.
‘n Aantal hektaar nethuise is reeds in die Mooketsi-omgewing aangelê en verdere uitbreidings word vir die gebied beplan. In die Soutpansberggebied is daar ook nethuise gebou. Die opbrengs van beskermde verbouing word as gemiddeld drie keer hoër as ooplande gereken.
Om so ‘n groot oes op een dag van die land te kry, verg die insette van ‘n lojale werksmag.
Samewerking tussen personeel in die landerye, pakhuise, distribusie- en vervoerafdelings beteken dat die tamaties binne dae vars van die landerye aan die verbruiker gelewer kan word.
Lees ook: ZZ2: Tons of tomatoes top record books




