Dieregesondheid tydens vergadering bespreek
Limpopo word allerweë beskou as dié belangrikste provinsie in Suid Afrika insoverre dit oor dieregesondheid gaan, sê Willem van Jaarsveld, voorsitter van die Limpopo Dieregesondheid Forum (LDGF.)
Dit grens aan drie buurlande, wat die potensiële verspreiding van veesiektes oorgrens na ons veestapel wesentlik maak.
Op Agri Limpopo se kongres het dr Pieter Vervoort, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheid Forum, dit so gestel:
“Veeartsenydienste in Limpopo behoort die beste in SA te wees aangesien Limpopo die buffer is vir ‘n gesonde nasionale veestapel in SA”.
Hierdie erns is sentraal in die LDGF se denke wanneer vergader word en bedreigings en geleenthede bespreek word.
Die voorkoms van groot getalle vee in kommunale gebiede waar bestuur eiesoortige probleme bied en staatsveeartsenydienste in die laaste jare toenemend verswak, beklemtoon die belangrikheid van hierdie forum se werksaamhede.
LDGF is vroeëer vanjaar in Polokwane gestig. LDGF skakel direk met die Nasionale Dieregesondheid Forum, onder leiding van dr Pieter Vervoort.
Die doel van die Forum is om alle rolspelers wat op enige wyse ‘n belang het by goeie dieregesondheid, op gereelde basis bymekaar te kry om oor bedreigings, behoeftes en beleid te gesels.
Die forum het ten doel om lewendehaweboerdery se volhoubaarheid te verseker deur spesifiek na kuddegesondheid en verbruikerbeskerming om te sien.
Tydens die laaste vergadering van 2016, wat op 9 November by Castle De Wildt buite Modimolle plaasgevind het, is diepgaande gekyk na siektes wat die vee-en wildstapels in Limpopo bedreig. ‘n Groot aantal privaat- en staatsveeartse asook verskeie vee- en wildboere het die vergadering bygewoon.
Onder andere het die probleme met toetsing van buffels en swartwitpense baie aandag gekry.
Onteveredenheid is uitgespreek oor die huidige stelsel.
Die rol en funksie van staatsveeartse, verantwoordelikhede van staats- en privaatveearts in die proses, tydsverloop om toetsresultaat beskikbaar te kry, logistiese rompslomp en onakkurate merk van bloedmonsters is bespreek.
Daar is gevra dat ernstige oorweging geskenk sal word aan die oprigting van privaat toetslaboratoriums vir hierdie doel. Vir die onmiddelike behoort kommunikasie met laboratoriums verbeter te word.
Vee- en wildeienaars sal ‘n groter rol moet speel om te verseker dat die totale proses van toetsing van diere volgens die voorskrifte verloop.
‘n Groter rol vir privaatveeartse en eienaars van diere, is aanbeveel.
Veral wildboere lei meermale groot finansiële skade weens onakkurate werk van ander partye. Dit sal in hul eie belang wees om intenser by die verloop van die hele proses betrokke te raak.
Veral deur te verseker dat monsters duidelik en netjies gemerk word, nommers korrek aangeteken word en dat indiening van die monsters bespoedig word.
Dr Vervoort het veeartse en boere aangemoedig om skakeling met die toetslaboratoriums te verbeter en hulle te verwittig van beplande toetsing sodat hulle daarvoor kan beplan en gereed kan wees.
Sodoende behoort bottelnekke by die laboratoriums voorkom te word en behoort uitslae vinniger ontvang te word.
Ander sake wat aandag geniet het was bek-en-klouseer, brucellose, corridorsiekte, Limpopo se grens met buurstate, merk van diere en skakeling met die SAPD se vee- en wilddiefstaleenhede.
LDGF het vir veeartse die geleentheid gebied om na afloop van die vergadering CPD-punte te verdien.
Lesings wat aangebied is vir hierdie doel was: Bestuur van Brucellose – dr Faffa Malan (RuVaSa), Siektes wat wild- en veestapels bedreig – dr Jacques O’Dell (Universiteit Pretoria) en Sinchronisasie van ovulasie en vaste periode kunsmatige insemenasie – dr Danie Odendaal (Veterinarian Network).
Die geleentheid is afgesluit met ‘n braaivleis en gesellige saamkuier.
LBG Holdings, Limpopo RPO, Shangrila Lodge en Cipla het saamgewerk om deur borgskappe die geleentheid ‘n reuse sukses te maak.
LDGF se volgende vergadering sal plaasvind op 9 Februarie 2016 in Polokwane.
Alle veeartse en verteenwoordigers van lewendehawegroepe word genooi om die vergadering by te woon. Skakel gerus met die LDGF se sekretaresse, Wilma Prinsloo, by w.prinsloo1@mweb.co.za of met die voorsitter, Willem van Jaarsveld, by info@agrilimpopo.co.za .
Datums vir die 2017 vergaderings van LDGF/LAHF kan gevind word by www.agrilimpopo.co.za onder Kalender.



