Die luislang wat verwyder is deur Jaco Gericke by 'n huis naby Mica.
“Dit het twee jaar geneem om die luislang te vang en op die ou einde het dit na ons toe gekom,” so vertel Diana Venter, ‘n inwoner op Mica Estate.
Voor dit het ons een van ons geliefde hondjies, Angie, slegs vier maande oud op 11 Maart verloor asook ‘n paar jong katte oor ‘n lang tydperk toe die slang hulle gevang het.
Een van hulle ander hondjies, Worsie, het hulle van die slang bewus gemaak nadat sy dit eenvoudig nie wou uitlos nie. Die luislang het tot in haar buitegebou, waar hulle honde slaap, masjiene gehou word en wasgoed gedoen word, geseil.
Jaco Gericke met die slang.
“Ek het die honde hoor blaf en toe ek deur my kamervenster kyk het ek iets gesien en net daarna die slang oor een van my hondekomberse sien seil.”
Sy het toe uit die huis gehardloop en die honde geroep, maar Worsie het ander planne gehad en was nie van plan om die gedierte te laat wegkom nie.
‘Ek het die honde met biltong die huis in gelok en my man, wat vroeg die oggend gaan visvang het, geskakel.’
Sy het ook Gert Coetzee van die CPF vir hulp geskakel.
Terwyl sy gewag het tot hulp opdaag, het sy die slang deurentyd dop gehou. Dit het gelyk of die slang een van die hondekomberse wou insluk, heel moontlik oor die reuk van die honde aan die kombers.
“Al wat ek gesien het is die slang wat sy bek regtig groot oop maak, die kombers aanval en toe daaroor rol…”, sê Diana.
Dit was in die stadium dat sy besef het dat die slang op die jag uit was. Sy het net gebid dat Jaco Gericke, wat dringend deur Gert ontbied is, baie gou sou opdaag.
Die vier meter luislang.
“Ek was bang dat die slang sou agterkom dat die kombers nie kos was nie en sou ontsnap.”
Haar man, Anton, het uiteindelik na wat soos eeue gevoel het, daar aangekom. Hy moes die deur en venster van die buitekamer toe maak, soos Gert aan Diana verduidelik het.
“Ek kon dit nie doen nie, omdat ek te bang was en die slang baie aktief was,” vertel sy verder.
Na Jaco daar aangekom het, het hy en Anton daarin geslaag om die slang na ‘n lang ruk en ‘n groot geveg, uit die masjien te kry.
“Hierdie slang het ‘n wil van sy eie gehad en was baie sterk,” sê sy.
Knus en rus.
Nadat Jaco die slang uiteindelik buite op die gras gehad het, het die slang haarself om sy been begin krul, maar hy het haar gelukkig losgekry. Die manne het behoorlik gestoei om haar in ‘n boks te kry. Dit het na Jaco gebyt en begin om sy arm te krul en wou net uitkom.
Jaco het aan Anton verduidelik wat om te doen en Diana moes later ook help.
“Die slang het nooit opgegee nie en dit het drie van ons geneem om haar in die boks te kry,” sê sy. Diana sê dat dit ‘n baie gelukkige oomblik was toe sy besef dat die slang, wat so baie van hulle diere wat hulle gered het, gevang, maar ook om die slang te sien wat hulle diere gevang het.
“Ten minste sal daar vir ‘n ruk weer vrede wees,” sê Diana.
“Angie en al ons katte het onvoorwaardelike liefde en geluk in ons lewens gebring en sal elke dag gemis word, maar altyd in ons harte bewaar word.”
Die egpaar bedank graag Andy wat haar met kontaknommers gehelp het, Gert Coetzee en Jaco Gericke. Hulle waardeer dit opreg.
“Dit was ‘n aaklige ondervinding,” sluit Diana af.
Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.