Die junior sokkerspan het vroeg-vroeg al voorbrand gemaak met ‘n 2-1 oorwinning, waarna die seniorspan amok gemaak het met ‘n wentelling van 7-4.
Seunshokkie het vir oulaas hierdie seisoen bewys dat genotvolle samespel die deurslag gee by elke oorwinning. Met ‘n 6-1 oorwinning het die 1e-span vriend en vyand beïndruk. Samual Modiba en JJ Davis het geskitter met 2 doele elk, terwyl Herman Grové en Jordan Stevens beide 1 doel aangeteken het. Wayne Coppen en Luann Botha het uitstekende verdedigingswerk gelewer.
Die belowende o/14’s het ook ‘n pragtelling van 5-0 op die telbord gesit. Kyle-Bradley Hamilton is speler van die wedstryd met 3 doele. Luca de Sousa en Aldrich Hugo teken elkeen een doel aan. Die o/16-span het in hul opponente se helfte geboer met Doran Kleynhans se wendoel wat finaal die Triegies se hokkiedoppie klink met ‘n 1-0 eindtelling.

Die dogtershokkiespanne spog met ‘n totaal van 9 doele teenoor slegs 1 vir Louis Trichardt. Die o/14-span wen 2-0 met Dezi Dreyer en Victory Mathebula benoem as spelers van die wedstryd. Die o/15’s boer in die opponente se doelhok met ‘n 5-0 wen. Zané Booysen en Renate Botha is uitgesonder as spelers van die wedstryd.
Op seniorvlak kom die doele nie so maklik, maar spog die 2e-span met ‘n 1-0 wen; Ronel du Toit is speler van die wedstryd. Na ‘n verbete stryd kon die 1e-spanne nie daarin slaag om ‘n doel aan te teken nie; Bianca Elbrecht is speler van die wedstryd.
Op die rugbyveld was die tafel gedek vir ‘n uitmuntende kragmeting. Die o/14-mannetjies gee die toon aan met ‘n 37-14 pragoorwinning. Die o/15’s laat ook nie met hul mors nie en verhoed die Triegies om ‘n enkele punt aan te teken met ‘n eindtelling van 22-0. In ‘n naelbytstryd eindig die o.16-spanne gelykop, 19 elk.
Alhoewel die 2e-span naelskraap 10-12 verloor het, het die 1e-span manne Plasieharte blou laat klop toe die eindfluitjie ‘n 27-21 oorwinning aankondig. Drieë is gedruk deur Kevin van den Bergh (2), Noko Malatjie (1), JD le Grange (1) en Wynand Scholtz (1). Delux Jooste het ‘n drie verdoel.



