OPVOLG: Lino se gemoed is reg – ‘Sugarman’ is nou ‘Miracleman’
Die volgende paar weke gaan harde werk verg tydens sy rehabilitasie.
Lino de Carvalho, bekende sakeman van Tzaneen, was op Woensdag 7 September opgeneem met ‘n aneurisme in die Unitas hospitaal in Pretoria.
Lees: Lino ernstig na beroerte
Op 8 September, berig Letaba Herald dat Lino goed aansterk.
‘Hy lyk baie goed en hy is baie bly om my te sien. Hy het darem gelag en my ‘n vet druk gegee. Die dokters en spesialiste was almal by hom,’ het sy vrou Chantelle toe aan ons vertel.
Lees: OPVOLG: Lino toon verbetering-‘Hy het darem al gelag en my ‘n vet druk gegee’
En elke dag gaan dit net beter. Maar hardewerk lê voor deur reabilitasie.
Chantelle het bevestig dat Lino, Woensdag 4 Oktober van Unitas hospitaal na MediClinic Meulmed oorgeplaas is.
‘Hy is nou opgeneem in ‘n rehabilitasie sentrum,’ het Chantelle aan Letaba Herald vertel.
‘Hy gaan nou voltyds met ‘n spraak-, arbeids-, fisio- en audioterapeut werk. Hulle werk saam as ‘n span onder die toesig van ‘n internis,’ vertel Chantelle.
Volgens haar sal die familie weekliks op hoogte gehou word van sy vordering en wat die volgende paar weke vir hom inhou.
‘Ons verneem 4-6 weke, afhangende van sy vordering,’ vertel sy.
Maar soos almal hier in Tzaneen Lino ken, is hy vasberade en sy gees en gemoed is op die regte plek.
‘Ons weet God dra hom en is altyd in beheer, dus wag ons op Hom om ons die pad te wys,’ sê sy vasberade.
Chantelle vertel dat die neurochirug na Lino verwys as ”n miracle man.”
‘Lino het blykbaar ‘n 80% kans gehad om dit nie te maak nie. Al die ‘odds’ was teen hom. Maar God se hand was alom teenwoordig.’
‘Die dokter het vir hom gesê as hy hard werk sal hy weer gholf saam sy seun kan speel,’ vertel Chantelle aangedaan en vol hoop.
Lino is nou nie meer Tzaneen se Sugarman nie.
‘Hy is my ‘miracle man’, sê Chantelle.
Die hele gemeenskap, al sy personeel en die hele Sugar-kliënte basis wens die familie en Chantelle sterkte toe met sy pad na herstel.
Sterkte Lino.



