Vrou sterf nadat voertuig haar in Tzaneen tref
Die polisie ondersoek die voorval nadat 'n vrou aan haar beserings beswyk het ná 'n botsing by die kruising van Loop- en Skrivingstraat.
TZANEEN – ‘n Vrou is Sondagoggend in die hospitaal dood nadat sy Saterdagaand, 7 November, deur ‘n Toyota Land Cruiser getref is terwyl sy langs die pad in Tzaneen gestaan het.
Die ongeluk het omstreeks 22:07 by die kruising van Loop- en Skrivingstraat plaasgevind. Volgens inligting wat aan die Herald verskaf is, het die Land Cruiser vermoedelik teen ‘n hoë spoed uit die rigting van die R71 gekom en oor die stopstraat gery voordat dit die vrou getref het.
Die vrou is per ambulans na die hospitaal vervoer, waar sy Sondagoggend aan haar beserings beswyk het.
Na wat verneem word, het die bestuurder ligte beserings opgedoen, terwyl die passasier steke aan sy kop ontvang het.
Die polisie was kort ná die ongeluk op die toneel. Dit is egter nie bekend of die bestuurder aan ‘n bloedalkoholtoets onderwerp is nie.
Polisiebeamptes het Maandagoggend vroeg twee sakeondernemings besoek om toegang tot kringtelevisiebeeldmateriaal (CCTV) te verkry wat na bewering die ongeluk vasgelê het.
Die Herald het navrae aan die polisie gerig, maar het teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.




