Nekita die heldin tree nou af
Aftree as 'n heldin, want Nekita het al meer as 30 honde se lewens gered deur die bloed wat sy al meer as 20 keer geskenk het in haar lewe.
“Hey Nikita is it cold In your little corner of the world You could roll around the globe And never find a warmer soul to know Oh I saw you by the wall Ten of your tin soldiers in a row With eyes that looked like ice on fire The human heart a captive in the snow’ – Elton John.
https://youtu.be/Tg-Q-Acv4qs
Dit is met die bekende lied van Elton John, dat Juanette van Deventer haar vier voetige beste vriend agt jaar gelede gedoop het.
Nou 56 jaar oud in mense jare en staan nou op aftree.
Ja, brakke kan ook aftree.
En Nekita tree af as ‘n heldin. Nekita me ‘n ‘E’ want sy is ‘n opregte egte Suid-Afrikaanse hond, vertel Juanette.
Aftree as ‘n heldin want Nekita het al meer as 30 honde se lewens gered deur die bloed wat sy al meer as 20 keer geskenk het in haar lewe.
Ja jy lees reg. Honde kan bloedskenk.
Van Deventer se ontmoeting met Nekita was in Nylstroom waar sy werksaam was by ‘n veearts op die dorp. Verwaarloos gekry in ‘n fietsmandjie. Bondeltjie bene net met vel ‘oorgetrek’, volgens Van Deventer.
“Ek het nie gedink sy gaan dit maak nie. Sy was naby die dood. Maar nadat ons haar op ‘n drip gesit het, het sy die knoop deurgehaak. Ek bestempel haar vandag as ‘n heldin,” vertel sy met liefde. Maar waar kom die gesogte titel vandaan. Sy was maar ‘n paar weke oud. ‘n Plaaswerker het haar ingebring na die praktyk toe. Sy het erge wurminfeksie gehad. Die eienaar van die plaas aan wie die hond behoort het was in Pretoria. Hy het met Rotweilers geteel en klein Nekita, wat ek eers later die naam voor gegee het was een van ‘n werpsel van nege wat oorleef het as gevolg van die wurminfestasie.” vertel van Deventer.
Van Deventer vertel verder dat sy net daar besluit het om die eienaar te skakel, R200 aangebied het om haar te koop en om die onkostes te dra vir die hond se medikasie. Die lied van Nekita lê haar na aan die hart. Sy het gevoel dat dit so gepas is en vandaar word die ‘wees-mense-diere- kind’ Nekita gedoop. Min wetend dat Nekita net later ‘n heldin sal word wat al meer as 30 ‘honde-vriende’ se lewens gered het deur bloed te skenk.
Van Deventer vertel dat daar in 2012 ‘n noodgeval was by die veaarts in Nylstroom en dat daar ‘n hond was wat dringend mediese aandag nodig gehad en bloed benodig het. Nekita was toe maar 8 maande jonk toe sy die eerste keer bloed begin geskenk het.
“Dit was ‘n Jack Russel wat erge bosluiskoors onderlede gehad het en dringend bloed benodig het.”
So skenk Nekita bloed en red haar eerste ‘pasient’!
Juanette en haar man is ‘n oud Tzaneen inwoners, maar het vir tien jaar in Nylstroom gewoon waar sy werksaam was by ‘n veaarts.
Sy en haar familie is nou reeds twee jaar terug in Tzaneen en werk sy vir die afgelope jaar deeltyds by Serala dierekliniek onder leiding van dr. Larissa Odendaal. Praat Juanette oor haar ‘lieflingskind’, kom jy vinnig agter dat die band tussen die twee baie heg is.
“Sy lê doodstel as sy moet bloedskenk en hoef nie eers onder sedasie gesit te word nie. Sy klim sommer self op die tafel en gaan lê. Die naald vir die proses word gewoonlik in die nek geplaas. En sy kry ‘n koekie na die tyd en soms ‘n vitamine B inspuiting.”
Nekita is nie ‘n gereelde bloedskenker nie.
“Ons het haar altyd kom haal as daar noodgevalle was. Honde bloed kan minstens ‘n maand in ‘n yskas gestoor word,” vertel sy.
Nekita is bang vir niks.
Met Letaba Herald se besoek op die plaas aan die buitewyke van Tzaneen word die skugter ‘ou-nooi’ nader gelok met honde pille maar word daar vinnig vertel dat sy glo bang is vir klein dogtertjies.
Op 9 September vanjaar het Nekita se mense-ouers besluit dit is nou tyd vir aftree en het sy vir die laaste keer haar bloed geskenk.
“Sy is nou oud genoeg. Sy is nou leeg getap,” vertel Van Deventer tong in die kies.
Liefdevol en sal soms vanself op haar ‘ma’ se skoot gaan sit. “Maar sy is baie beskermend en kan kwaai wees.” gee sy Herald die versekering.
“Nekita is in my oë ‘n ‘hero’. Ons kon haar gebruik om ander honde se lewens te red. Dit is maar net soos ‘n hond wat ‘n kind uit ‘n swembad red. ‘n ‘Hero.’ Sy is inderwaarheid ‘n Aspoestertjie wat ‘n prinses geword het.”
Maar die prinses tree nou af en dra nou die kroon as heldin koningin met haar liefdestaak wat sy oor die jare verrig het. Sedert hulle terug is in Tzaneen kon Nekita een hond se lewe red deur haar bloed.
“Mense moet besef dat ‘n weggooibrak, ‘n brak kan word wat iets vir iemand anders se lewens beteken.” “God uses the small and the weak for His greater good,” sê van Deventer.
Die ‘ou-vrou’ het ook maar skete en kwale en die kniegewrigte knyp nou vas.
“Maar sy is nog aan die gang. Sy spaar haarself nou maar so rustig. Lê-lê op die bank en het nou amptelik afgetree. Geniet die laaste bietjie tee saam my in die oggend en ‘n krummel of twee van die ontbyt wat oorbly.”
Nekita kom na Herald se onderhoud uitgestap met grasie waar sy op haar ‘troon-bank’ gelê en ‘n uiltjie geknip het vir die foto sessie. Sy kry haar omkoop koekie en gaan sit soos ‘n grand-dame. Dié brak het maniere en sit geduldig om vasgelê te word op kamera.
Want die inwoners moet kennis dra van Nekita, Tzaneen se eie brak-held!
Nee, die koningin!
Dr Larissa Odendaal, veearts by Serala dierekliniek deel die volgende vinnige feite oor honde wat bloedskenk:
* As tewe gebruik word as skenkers moet hulle nog nie kleintjies gehad het nie. * Verkieslik honde wat gesteriliseer is. * Die hond moet gesond wees. * Alle inentings moet op datum wees en nie ‘n geskiedenis van enige bloedverwante siektes gehad het nie. * Alvorens die hond kan bloed skenk word die bloed getoets. * Bloed sal altyd eers getoets word of dit geskik is vir oortapping na ‘n ander hond. * Hoekom skenk honde bloed? – Dit word gebruik veral waar honde deur slange gepik is, veral deur boomslange. – Bosluiskoors en bosluisbytkoors – Honde wat beseer is in karongelukke en bloed benodig. – Vir siektes waar rooibloed selle vernietig is. – Honde wat bloed skenk moet oor die gewig wees van 25kg en hoeveelheid eenhede bloed wat geskenk word, word bepaal deur die gewig van die hond. – Elke eenheid is ongeveer 450ml. – Die geskikte hond moet verkieslik tussen een en agt jaar oud wees.