Local newsNews

TZANEEN: Milaan Talwitzer word as Sakepersoon van die Jaar vereer

“Sukses is die vermoë om geleenthede wat na jou kant toe kom te, benut. Daarna sit jy baie ure in om die geleenthede uit te bou.”

Milaan Thalwitzer, voorsitter van die Komati Groep, ‘n familiebesigheid in sy vierde generasie, is verlede week deur die Tzaneen Sakekamer as Sakepersoon van die Jaar vereer.

 

Milaan se pa, Theodore Maximillian Thalwitzer, het in 1954 ‘n plaas op die oewer van die Letabarivier gekoop. In 1965 het Milaan by sy pa aangesluit. Die aanvanklike 100ha is uitgebrei tot die konglomeraat van maatskappye en ondernemings wat dit vandag is. Hulle verbou sitrus, mangos, litchies, bloubessies, piesangs, makadamias, avokado’s en suikerriet. Sewentig persent van hulle produkte word na 30 lande uitgevoer. Hulle het ook plase in Malalane, Hoedspruit, Hectorspruit en Burgersfort.

 

Milaan Talwitzer ontvang sy toekenning. Links is Llandi van der Walt en in die middel is Maripe Mangena, burgemeester van die Groter Letaba Munisipaliteit.

 

“Dis lekker om erkenning vanuit jou eie omgewing te ontvang,” sê Milaan by die Komati Groep se hoofkantoor in Letsitele. “Ons boerdery was gelukkig om in ‘n goeie landbouomgewing geleë te wees. Ons kon van dié basis af uitbrei.”

 

Die omgewing het baie verander sedert die vyftigerjare, sê hy. “In daardie jare was ons baie boere, selfs soveel as veertig.” Vandag is die meeste subtropiesevrugteboere in die omgewing groot kommersiële familieboerderye. “Tog is dit verblywend om te sien dat die jongmense terugkom na die omgewing om hul by die familieboerderye aan te sluit.”

 

Sy grootste uitdaging was om goeie korporatiewe bestuur te vestig en volhoubaar toe te pas. “Sukses is die integriteit waarmee jy sake doen, dat jy verantwoording kan doen aan jou omgewing en sy mense, en om ‘n voorbeeld aan ander te stel.”

 

Deel van hul sukses was om die regte mense in poste aan te stel.  Hy sê hulle kon daarin slaag om ‘n uitstekende menslikehulpbronnedepartement te vestig. “Dit was kern tot ons sukses.” Die groep het 5000 mense in diens waarvan 1500 permanente werknemers is en 3500 seisoenaal werk. Hy sê as ‘n jong boer en sakeman het hy die geleentheid gehad om op verskeie maatskappydireksies te dien. Dit wat hy daar geleer het, kon hy later gebruik in die bestuur van die Komati Groep.

 

Alles word sentraal vanuit die Letsitele-hoofkantoor beheer deur middel van die jongste tegnologie. “Ek en Piet Smit, my skoonseun en hoofuitvoerende beampte, woon en werk hier terwyl my ander twee skoonseuns, Cornel van der Merwe, bemarkings- en verpakkingsdirekteur, en Marinus Neethling, produksiedirekteur, in die Laeveld woon.”

 

Landboubesighede groei en die loopbaangeleenthede vir jongmense is legio. Hy sê ‘n universiteitsgraad in landbou,  ingenieurswese of finansies sal jou goed voorberei, of jy self wil boer of by groot ondernemings wil inskakel.

 

Hy voel ook baie sterk oor die landboubedryf se verantwoordelikheid in grondhervorming. “Dit is ons boere se plig om deel te wees van die oplossings. Ons bedryf twee baie suksesvolle vennootskapboerderye waar ons kundigheid terugploeg.”

 

Oor die toekoms is hy optimisties. “Die meeste lande neem erns met voedselsekuriteit. Dit beteken hulle wil suksesvolle boere hê. Dit beteken ook nie dat jy noodwendig ‘n groot kommersiële boer moet wees nie. Kleiner boere het ‘n groot rol om te speel, hulle kan dinge vinnig en meer effektief doen. Die geheim is om altyd te groei, maak nie saak hoe groot of klein jy is nie.”

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button