Local newsNews

Vossies se Renzo du Plessis is flink op flank

Hy is skaars 18 jaar oud, maar staan reeds 1,90m in sy Vossie-rugbyskoene en later vanjaar trek hy waarskynlik die Limpopo Blou Bulle se skoene aan vir die Cravenweek.

Renzo du Plessis, hoofseun van Die Hoërskool Ben Vorster, is ‘n belowende flank wat sy oë op die een van die groot rugby-franchises het, (en natuurlik ‘n BCom-graad).

Die aanlyntydskrif, schoolofrugby.co.za, het hom onlangs ‘n “sterk aanspraakmaker” genoem om die Suid-Afrikaanse Skole-span vanjaar aan te voer.

 

Renzo du Plessis in aksie op die rugbyveld.

Maar groot hoogtes kom nie sonder die ondersteuning van ‘n groep mense rondom jou nie.

“Ek maak onmenslik baie staat op my familie. Vanaf my pa, Renso, wat seker maak dat ek het alles wat ek nodig het, tot my ma, Elana, wat my na oefeninge rondry. Op Saterdae, wanneer ons wedstryde speel, is hulle altyd daar,” sê hy.

“Ons het vroeg reeds besluit dat ek naby die huis gaan skoolgaan en ek is nie ‘n dag spyt oor dié besluit nie. In ‘n kleiner skool moes ek baie harder werk om deur die rugbybase raakgesien te word.”

Renzo sê ‘n goeie rugbyspeler moet oor twee eienskappe besit, respek en harde werk.

“‘n Goeie leier is iemand wat mense volg in moeilike situasies. Hy moet die regte besluite neem, al is dit nie die gewildste besluit nie. Veral in sport, glo ek, lei ‘n mens van voor af.”

Hy sê talent neem ‘n mens net tot op ‘n punt. “Jou afrigters speel ook ‘n belangrike rol, veral op hoërskool. Ek het groot waardering vir Ben Vorster se Peter Schutte wat Vossies se rugby gegroei het,” sê hy.

Voor ‘n groot wedstryd skryf hy sy persoonlike doelwitte neer. “Ek kry ‘n woord in die Bybel waarop ek mediteer en doen Bybelstudie. Ek speel ook die wedstryd in my kop af en dink wat ek in sekere situasies gaan moet doen.

“Ek begin al gedurende die week te dink en werk aan Saterdag se wedstryd. Ek motiveer myself deur positiewe aanhalings in my kop te herhaal,” vertel hy.Dit is sy doelwit om Superrugby te speel en om die groen en goud oor sy kop te trek. “Natuurlik sal ek ook in ‘n wêreldbekertoernooi wil speel.”

Tans, tydens die koronavirus-inperking, oefen hy in die gesin se tuis-gimnasium. “In die oggende gim ek en smiddae doen ek fiksheid op ons groot erf. Die SA Elite afrigterskorps gee oefenprogramme deur vir die SA EPD-spelers wat spesiaal uitgewerk is vir fiksheid en kondisionering gedurende hierdie tydperk.”

Saans, voordat hy sy kop neerlê, drink hy vitamines en ‘n proteïendrankie. “Ek lees my Bybel en dink oor my my dag.”

En in sy kop sien hy die groot rugbystadions van die wêreld – en op die veld draf ‘n jongman van Tzaneen as flank op die veld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button