LifestyleLocal newsNews

Kiets en Wagter wil ook oor Kerstyd bederf word

Baie troeteldiere ervaar depessie en angstigheid wanneer hul eienaars met vakansie vertrek.

Wanneer die alleenheid te veel vir sommige honde raak, vat hulle die pad. Maak seker jou erf is dig toe en dat iemand elke nou en dan ’n draai maak om te kyk of daar genoeg kos en water is en om ’n bietjie aandag aan die diere te gee. Mikroskyfies, wat deur ’n veearts onder die vel ingeplant word, is die beste manier om verlore diere weer op te spoor. 

Wees ook versigtig met oop swembaddens. Dit gebeur dat honde wat water drink, in die swembad val en nie weer kan uitklim nie. Dit geld veral vir kleiner honderasse. Vir eienaars wat met Jan Tuisbly se karretjie ry, is daar ook wenke om hul troeteldiere stertswaaiend en gelukkig te hou. 

Diere kry ook swaar in die Bosveld-hitte. Koop gerus ’n groot plastiekskottel en vul dit met water sodat honde lekker kan afkoel. Maak net seker dat babas en kleuters nie wil saamspeel nie.  Hekke waar motors heeltyd in- en uitry is ’n groot uitdaging.

Almal is aan die gesels en let nie op dat viervoetiges maklik onder die motors se wiele kan beland nie.  Honde raak ook maklik senuagtig met groot groepe kuiergaste, veral as daar klein kindertjies by is. Maak seker diere het ’n veilige lêplek buite bereik van kuiergaste as dinge te oorweldigend vir hulle raak.

Moet ook nooit jong kinders alleen by honde laat nie.   Almal geniet braaivleis, maar hoenderbene en fyn, skerp beentjies soos by skaaptjops, kan in een van die diere se kele vassteek. Kyk ook dat hulle dit nie op vernuftige wyse uit die asblik of van die kombuistoonbank bereik nie, want niemand wil inderhaas ’n veearts oor Kerstyd probeer opspoor nie.   Baie van die lekkernye waaraan ons smul, is giftig vir honde. Maak seker hulle eet nie saam aan sjokolade, druiwe, rosyne en  makadamianeute nie. Hou ook bloukaas, knoffel en uie weg.

Kunsmatige versoeters wat dikwels in roomys en lekkergoed gebruik word, kan dodelik vir honde en katte wees — selfs in klein hoeveelhede.

Sekerlik een van die grootste probleme vir troeteldiere gedurende die vakansieseisoen is die skiet van klappers. ’n Dier wat angstig raak, kan hom- of haarself maklik beseer as hulle deur ’n heining of venster probeer spring. ’n Veearts kan kalmeermiddels voorskryf vir diere wat erg reageer op klappers. Dit help ook as ’n mens die diere binne hou en die televisie of musiek harder stel en aangaan met gewone take.  

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button