Kies jou gunstelingkleur vir die dek van vanjaar se Kerstafel
Marietjie Steenkamp skryf dat sy vanjaar haar Kerstafel in seegroen gaan dek. Kies 'n kleur vir jou tafel om dit aantreklik te maak.

My Kerstafel word vanjaar in skakerings van blou, wit en seegroen gedek.
Dit is vir baie mense ’n droom om Kersfees by die see te vier, maar dit is ongelukkig nie almal beskore nie. Die plek waar jy Kersfees is, hoef jou egter nie daarvan te weerhou om ’n “seekleurige” Kerstafel in die tuin of huis te dek nie.
Jo-anne Potgieter en Corietha Müller het vanjaar vir my ’n tafel vir Die Pos se jaarlikse Kerstafel gedek in kleure van blou, wit en seegroen wat ’n mens sommer laat voel asof jy êrens op ’n spierwit strand of eksotiese eiland is.

Op die pragtige houttafel is van boeke tot ornamente en Ouma se wit loper wat as basis vir die feestelike versierings gebruik is. Die “blomme” op die tafel is sommer van gevoude, herwinde papier gemaak en ’n paar van afvalstukkies materiaal.
As jy die geld kan afknyp, sal vars wit lelies of fyn wit blommetjies prentjiemooi wees. Hierdie twee vroue het kerse en klein lanterns op die tafel gesit om dit meer spesiaal te maak. Die borde is skakerings van blou en seegroen en die twee houtvoëltjies is ’n kleinnood van ’n straatmark in Inhambane in Mosambiek Die groot bolle wol is sommer net vir die pret, het hulle vertel, en ’n mens te laat dink aan die mense wat in vêr lande is en ’n koue Kersfees moet hou.
Die lieflike keramiekbak is die werk van Surita Steenkamp. Vir die nostalgie is outydse geborduurde lappies en servette gevou om as plekmatjies te dien. Die silwer eetgerei is erfgoed en word elke jaar blink gepoets vir die Kerstafel.
Nou is dit net die voorbereiding van die feesmaal wat voorlê, dan kan ons saam met geliefdes aansit by die Kerstafel.
Kies vanjaar jou gunstelingkleur en dek ’n tafel met die skatte wat jy reeds het en deel van die mooi herinneringe en dié besondere geleentheid met familie en vriende.



