Bek-en-klouseer ’n groot risiko
Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het onlangs die bek-en-klouseer-gebied vergroot om gedeeltes van die Mopani-distrik in te sluit,
Slegs slagpale in Phalaborwa aanvaar tans beeste wat vanuit die onlangs vergrote bek-en-klouseer-area in Limpopo kom.
In die staatskoerant van 10 Mei het die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, die bestaande bek-en-klouseer beheergebied onder die Dieregesonheidwet 35 van 1984 aangekondig dat die gebied in Limpopo se grense geskuif word om die area te vergroot.
Die beheergebied sluit nou die hele Collins Chabane plaaslike munisipaliteit, die hele Thulamela plaaslike munisipaliteit, die geleedelte van die Groter Giyani munisipaliteit, Letaba en Molemole munisipaliteit wat noord van die R36 vanaf die N1-snelweg op pad na Mooketsi lê.
Dit sluit ook die gedeelte al langs die R81 vanaf Mooketsi tot waar die pad die Klein Letabarivier kruis, tot by die heining van die Kruger Nasionale Park in.
Dan ook die gedeeltes van die plaaslike munisipaliteite Makhado en Musina oos van die N1, van waar die R36 die N1 kruis, insluitend die Musina-natuurreservaat. Die beheergebied loop dan al langs die Musina-natuurreservaat se grens tot waar dit die Venetia-mynpad kruis.
Dan volg dit die Venetia-mynpad tot by die R521 en volg dan die R521 tot by die landsgrens by die Pontdrift-grenspos; en die noordelike grens is die landsgrens tussen die Pontdrift-grenspos en die Kruger Nasionale Park se heining, terwyl die Kruger Nasionale Park se heining ook as die oostelike grens dien.
Lees ook: Boere in Politsi takel kragkrisis
Die doel met die beheermaatreëls is om die verspreiding van bek-en klouseer te stuit deur die skuif van diere, dierprodukte en genetiese materiaal slegs met die toepaslike permit uit die areas toe te laat.
Volgens die staatskoerant moet alle diere deur ‘n staatsveearts ondersoek word voor ‘n permit uitgereik sal word.
Volgens inligting koop Gaza Beef in Giyani tans slegs beeste aan wat reeds vooraf negatief getoets het vir die siekte en het die slagpale in Februarie laas diere uit die area aangekoop.
Piet Warren, bekende wildsboer en eienaar van Piet Warren-slagpale in Phalaborwa vertel dat hulle bek-en-klouseer beheermaatreëls streng navolg. “Die hele kontrei hier is besmet met die siekte. Elke bees wat ons slag word lewendig geïnspekteer. Die hele kop word afgeslag en enige letsel of merk word gerapporteer.
“Dit voorkom dat geen besmette dier hier geslag word en in die mark in gestuur word nie,” sê Warren.
“Bek-en-klouseer is ‘n groot risiko.
As ek ‘n buffelboer was, was ek doodbekommerd oor die staat se onvermoë om die siekte te bekamp. Dit is skrikwekkend,” sluit hy af. Cecilia Prinsloo, voorsitter van die PinZ²yl beestelersgenootskap vertel dat hulle kreatief moes wees om uit te stal by die Nampo-Oesfees in Bothaville vanjaar.
“Ons het buite die boks gedink en lewensgrootte foto’s van ons stoetbeeste ten toon gestel by Nampo, juis omdat soveel van ons telers in die Noorde van die land is,” vertel Prinsloo.
Sy voeg ook by dat Didiza hulle uitstalling verskeie male besoek het en hulle geprys het omdat hulle so verantwoordelik opgetree het.
Isaac Paahla, woordvoerder vir die Kruger Nasionale Park het Maandagoggend bevestig dat daar nog geen gevalle in die park bespeur is nie. Ons het nog geen gevalle van bek-en-klouseer opgelet nie, maar ons moet versigtig en bewus wees van die risiko,” sê Phaahla.



