Tzaneen groet ‘n formidabele vrou
Tzaneen is in rou gedompel na die afsterwe Vrydagaand van Ilza Roelofse (63), jarelange lid van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) Tzaneen se diensbestuur in ‘n hospitaal in Sandton.

Sy het diep spore getrap in die omgewing en sal veral onthou word vir die goeie werk wat sy by die SAVF gedoen het die afgelope 15 jaar. Ilza het in 2007 deel geword van die SAVF Tzaneen se diensbestuur en het eers as ondervoorsitter en later as tesourier gedien. Sy was die voorsitter van gesinsorg en het saam met maatskaplike werkers, Joyce Ahlers en Daleen Smit die maatskaplike kantoor hanteer.
“Ilza was die hartklop van SAVF Tzaneen. Haar getrouheid, ywer en passievolle uitleef van haar roeping sal ons altyd bybly. Sy het baie omgegee vir ander mense en waar sy kon het sy mense in nood gehelp,” vertel Ina van Rensburg, voorsitter van die SAVF Tzaneen diensbestuur. “Haar vingerafdrukke asook monumente wat sy met soveel entoesiasme daargestel het, is oral sigbaar. Sy het vir ons ‘n voorbeeld gestel om na te volg. Ons treur oor haar,” vertel Van Rensburg.
Lees ook: Woman outraged with treatment at Home Affairs in Tzaneen
“Ons wil graag ‘n spesiale woord van dank gee aan André, haar eggenoot, wat haar altyd ondersteun en bygestaan het in elke projek wat sy vir die SAVF aangepak het. Nooit het hy in haar pad gestaan om haar\ alles vir die SAVF te gee nie. Dankie André, ons waardeer jou,” sê Van Rensburg. Ilza het verskeie projekte op die been gebring by die SAVF. Die Huis van Hoop, wat verlede jaar oopgemaak is, was een van
haar groot drome wat verwesenlik is.
Sy het ook seker gemaak dat die Tzaneen-tak van die SAVF steeds Hoededag vier as ‘n jaarlikse fondsinsamelingsprojek toe ander takke oorgeskakel het na ‘Takkie-tax’. Die Kinder Kersboom, Wit Olifant-projek, die SAVF se Dit en Dat-winkel in Tzaneen en Lebogang- winkel in Modjadjiskloof, asook die Sakkie vir ‘n Pakkie-projek is deur Ilza begin. Die jaarlikse Ligloop en die Muur van Hoop was ook haar breinkind. “Ilza het ‘n hart van goud gehad. Ons het saam baklei om goed reg te ruk. Ons voel nou soos ‘n skip wat nie ‘n kaptein het nie,” vertel Joyce Ahlers, maatskaplike werker.
“Jy het nog nie eers daaraan gedink nie, dan het sy dit reeds beplan. Sy was ‘n vrou met fenomenale breinkrag. Sy het uit die boks, bo die boks en oral om die boks gedink,” voeg Ahlers by. Ilza word oorleef deur haar man, André en seun, JP. ‘n Gedenkdiens sal op Dinsdag, 6 September by die NG Kerk Wolkberg gehou word om 10:00.



