Local news

Pienk Graaf skenk hul liefdadigheidsgeld vir dié in nood

Die Pienk Graaf-projek wat verlede jaar in Oktober in Tzaneen, Modjadjiskloof, Phalaborwa en die omliggende areas vlam gevat het, het tot dusver R70 000 ingesamel en het reeds R50 000 teruggeploeg in die gemeenskap.

Die pienk grawe op bakkies en in tuine het vir groot opgewondenheid gesorg en die dorpe het gegons oor die nuwe liefdadigheidsinisiatief. “Daar is bietjie meer as 70 grawe verkoop in ons omgewing en ons het tot dusver R50 000 teruggeploeg in ons gemeenskap. Alles te danke aan ons ondersteuners! “Die projek het ons stoutste verwagtinge oortref en ons kan net dankbaar wees,” sê Melissa Strydom, een van die organiseerders.

Alle geld is by Stefan van Rensburg Prokureurs se trustrekening op Tzaneen inbetaal en die boekhouding en uitbetalings is deur die prokureurs behartig. “Versoeke en noodsituasies het ingestroom en ons moes bontstaan om almal te kon akkommodeer,” sê Strydom. Die afgelope paar maande sedert die projek van stapel gestuur is, het die Pienk Graaf-projek reeds verskeie mense in nood bygestaan.

Lees ook: Ondersteuning vir Pienk Graafprojek vir genesing groei

‘n Vrou met ‘n septiese wond is gehelp om die korrekte en nodige behandeling in die Mankweng-hospitaal te kry en ‘n kankerpasiënt se huishuur is betaal. ‘n Donasie is vir ‘n driejarige kankerpasiënt se behandeling gemaak, en ook vir ‘n ander kankerpasiënt se operasiekostes. Daar is vir twaalf kinders skooltasse en skryfbehoeftes gekoop.

“Nie een van hierdie kinders het al die voorreg gehad om ‘n splinternuwe tas en potlode te ontvang nie,” sê Strydom. Die Pienk Graaf-projek het vir ‘n jong vrou met kanker se dokterskonsultasie en behandeling betaal en het verder ook vir die dokterskonsultasie, X-strale en medikasie van ‘n jong man wat in ‘n grusame motorongeluk was, betaal.

Sy sewejarige seuntjie en swaer is in die ongeluk dood. Oor die feesseisoen is kruideniersware vir ‘n behoeftige gesin gekoop en is die jarelange uitstaande apteekrekeninge van pensioenarisse vereffen wat van staatstoelae afhanklik is en wat maandeliks hulle kroniese medikasie self moet koop. “Bietjie hulp bring soms baie groot verligting en julle ondersteuning het vir seker vir ander ‘n groot slaggat toe gemaak!”

Lees ook: PHOTOS: Get snaps of the Pienk Graaf Walk

‘n Staat van die Pienk Graafprojek se geldsake in die trustrekening is beskikbaar en kan aangevra word deur ‘n e-pos te stuur aan pienkgraaf@gmail.com. Daar word slegs aan diensverskaffers soos dokters, hospitale of huuragentskappe geld oorbetaal en betalings is nie in individue se bankrekeninge betaal nie.

Die projek het tans nog beperkte fondse beskikbaar en diegene wat dit nodig het, kan per e-pos kontak maak vir bystand. In uiterste noodgevalle is die maksimum hulpverlening R5000. Skakel Melissa Strydom by 078 621 7405 of Wendy Stoop by 081 272 4793 vir fondsinsamelings of om betrokke te raak by Die Pienk Graaf-projek.

Related Articles

 
Back to top button