Ondersteuning vir Pienk Graafprojek vir genesing groei
Inwoners en besighede op Tzaneen word genooi om by te dra tot ‘n goeie doel en ook sodoende hoop en genesing in die gemeenskap mee te bring.

Die projek is geïnspireer deur Adelé du Plessis, ‘n onderwyser van Hoërskool Ben Vorster wat in Junie oorlede is na ‘n stryd met borskanker. Haar broer, Marius, wat in Durbanville in die Wes-Kaap woon, het sy bakkie se graaf pienk gespuit en die idee het vandaar vlam gevat.

“Hy en vriende stap elke aand om 18:00 met hulle pienk grawe in die buurt en die bure het al met hulle pienk grawe by hulle aangesluit,” vertel Adelé se ma, Magdel. Gerda Drewes en Melissa Strydom het Donderdag amptelik die Pienk Graaf-projek van stapel gestuur deur grawe af te lewer op Tzaneen. “Die idee is om geld in te samel vir kankerpasiënte en behoeftiges in ons gemeenskap.
Lees ook: Get your tickets now for Dine in the Dark event
Daardie graaf moet jou hoop gee, dit moet jou herinner dat jy ‘n verskil kan maak en altyd iets aan jou naastes kan teruggee. “Die graaf moet jou herinner dat ons vir mekaar kan slaggate toegooi en vir mekaar kan bome plant en ook dat ons met die pienk grawe mekaar se wonde kan genees,” sê Drewes.
Hanro Fritz, ‘n bekende kameraman en videograaf, het die geleentheid op film vasgelê. Paint Pot Tzaneen het ‘n spesiale pienk kleur gemeng vir die projek en Faan, Adelé se pa, spuit self elke aand grawe pienk vir die inisiatief. ‘n Pienk graaf kos R1000 en geld sal in Stephan van Rensburg Prokureurs se trustrekening inbetaal word. Skakel Gerda op 082 721 7210 vir meer oor die projek.