Plasies neem afskeid van Juf. Sanet Bouwer na 33 jaar
“Om vir 33 jaar by een skool te onderrig, wil gedoen wees. Ons salueer ‘n legende!”

So het dit weerklink vanaf die personeel en leerders van Merensky Landbou Akademie met die aftrede van juffrou Sanet Bouwer aan die einde van die eerste kwartaal. Die Plasies het aan Bouwer hulde gebring en haar alles van die beste toegewens in haar nuwe seisoen na haar aftrede. Bouwer het oor meer as drie dekades diep spore op Plasieland getrap. Sy het as jong onderwyser aanvanklik liggaamlike opvoedkunde as vak aangebied, haar spesialiseringsarea op onderwyskollege.
Later jare het sy sosiale wetenskappe aangebied totdat sy uiteindelik ‘n gewilde toerismejuffrou geword het. Sy was self ‘n netbalafrigter van formaat en het op Plasieland tientalle aktiwiteite georganiseer. Sy was ‘n leidende rolspeler by vorige jare se prefekgroepe, atletiekbyeenkomste, Mnr. en Mej. Merensky, die matriekafskeid en verversingskomitee. Sy het by funksies haar glimlag saam met tientalle koppies tee aan ouers en besoekers bedien.
Lees ook: Plasies wys hul agrispiere by jeugskou
Later jare het sy hand bygesit met die versorging van die aantal katte op die terrein. Al was die druk hoe erg, het haar “ons doen dit vir volk en vaderland”-mantra haar kollegas aangespoor. Bouwer was beslis ook ‘n bok vir sports. Tydens haar laaste saalbyeenkoms is ‘n paar geheime uitgelaat, byvoorbeeld oor die dag toe haar klassleutel spoorloos verdwyn en sy deur die venster geklouter en binne-in ‘n asblik geland het, doodbang dat die sekuriteitswag haar gaan voorkeer.
Merensky Landbou Akademie waardeer haar toewyding aan haar vak en betrokkenheid by leerders. In haar oë is elke kind eintlik ‘n “sweetie pie” wat met aanmoediging gemotiveer kan word om sy of haar beste te lewer. Die Plasies vertrou dat haar slagspreuk, “the world is your oyster” in die toekoms ‘n werklikheid sal word met staptogte, reise, nuwe plekke, nuwe mense en nuwe ervarings.