Local news

Inisiatief bring hoop vir Limpopo se mense

Solidariteit Helpende Hand se Tzaneen-tak het verlede Donderdagaand aan ‘n virtuele en omvangryke takstigtingsprojek met die doel om mense in te lig oor Helpende Hand se werksaamhede, deelgeneem.

Hul navorsing het bepaal dat eensaamheid, depressie, angs, werkloosheid en boeliegedrag in skole die Limpopo-provinsie lamlê. Daarom het dié gemeenskapsorganisasie ingegryp om sy strukture in dié provinsie te versterk en uit te brei. Solidariteit Helpende Hand, wat al sedert 2010 na gemeenskappe in Limpopo uitreik, het na rolspelers uitgereik om by sy bestaande struktuur in te skakel. “Ons het met ons gemeenskapstudie gesien dat inwoners vele maatskaplike uitdagings in die gesig staar.”

“Daar is baie mense wat graag wil eienaarskap neem, wat bereid is om self in te spring en aksies en projekte te loods tot voordeel van hul gemeenskap. Helpende Hand wil hulle ondersteun om hul energie in gestruktureerde optrede te plaas,” sê Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur. Altesaam 13 gemeenskappe in Limpopo het hul hande uitgesteek om betrokke te raak.

Lees ook: Makhoma ontvang eredoktersgraad

Die dorpe waar takke gestig is, is Ellisras (Lephalale), Vaalwater, Marble Hall, Groblersdal en Pietersburg (Polokwane). Op Letsitele, Tzaneen, Phalaborwa, Thabazimbi/Northam en Naboomspruit (Mookgophong) is takke versterk en takstigting word vir Nylstroom (Modimolle), Potgietersrus (Mokopane) en Warmbad (Bela-Bela) beplan. “Helpende Hand fokus op gemeenskapsontwikkeling en werk saam met skole, kerke, boere, sakemanne en ander belanghebbendes om ‘n verskil in die gemeenskap te maak.

Ons besef ook hoe krities opvoeding, opleiding en ontwikkeling is om hoop te skep en vir gemeenskappe se vooruitgang,” sê Noëth. Noëth sê die belangstelling in hierdie inisiatief skep baie hoop vir die toekoms van Limpopo. “Met gemeenskapskrag en samewerking kan Limpopo groei en vooruitgaan en ‘n beter toekoms vir al sy inwoners bou.” Besoek www.limpopohand.co.za vir meer inligting. Om betrokke te raak by die Tzaneen-tak, skakel Chanté Lamprecht by 072 677 4664.

Related Articles

 
Back to top button