Warm harte vir goeie saak
Die Warmfees wat op 13 Julie deur Round Table 96 Tzaneen aangebied is, het baie geld vir liefdadigheid ingesamel.
Die fees het gesorg vir groot vermaak op die verhoog, raakrugbyveld en ‘n massiewe 40m-springkasteel met die doel om vir Ruan Weideman, ‘n tienerseun wat hulp met mediese kostes benodig asook om niebederfbare kos en komberse in te samel vir diegene in die Tzaneen-gemeenskap wat dit benodig. “Ons is woordeloos. Die finale syfers van die Warmfees Tzaneen wys dat die projek in totaal net meer as R134 000 ingesamel het,” sê Albert Vermeulen van die Round Table 96.
Die Tafelaars het komberse en kos ter waarde van R58 456 ingesamel. Die skenkings is versprei aan behoeftige mense en gesinne by Laerskool Tzaneen, SAVF Tzaneen, Laerskool Duiwelskloof, Wolkberg Akademie en Laerskool Dr Annecke. Daar is ook goedere geskenk aan Goue Jare-bejaardesorg op Modjadjiskloof met die hulp van die Letaba Tzaneen Lionsklub wat die hekke beman het tydens die fees.
Lees ook: Skud vere reg vir Warmfees
Die Tafelaars het ook wins en kontantskenkings ter waarde van R76 280 ingesamel wat aan die Weideman-gesin beskikbaar gestel sal word soos wat Ruan dit benodig vir mediese en ander kostes. Round Table 96 het Martin Bester, Zoé Jacobs, Ickinger, DJ Jonty, Iveco Polokwane, BB Mahindra Tzaneen, Lannie Motors, NTT Isuzu Tzaneen, Trophy Toyota, VKB Landbou Tzaneen, Pestco Limpopo, Galito’s, Okuhala Construction, PPS Tzaneen, Santam Beperk.
Ultru Liquor Tzaneen, Hotel@ Tzaneen, Tzaneen Print Co, Libra Accounting Solutions, Radio Centre Tzaneen, Breed Security, South African Breweries, Quality Waste Management, Discovery Insure en Eastern Produce Estates bedank vir hul bydraes en teenwoordigheid. Hulle het ook Laerskool Tzaneen vir die terrein bedank en het beloof dat volgende jaar groter sal wees.



