Lewenslank: Pa skuldig aan verkragting van dogters (9 en 11)
Die meisies is in die sorg van die pa gelaat wat hulle fisiek ernstig aangerand het en hulle aan seksuele uitbuiting blootgestel het.
TZANEEN – ‘n Letsitele-boer wat sy minderjarige dogters aan Zimbabwiese werkers vir seksuele misbruik beskikbaar gestel het wanneer hy nie hul salarisse kon betaal nie, is saam met sy vriend lewenslange tronkstraf opgelê.
Die Polokwane Hooggeregshof het op Donderdag, 15 Mei, die 39-jarige pa en sy 37-jarige vriend skuldig bevind aan verkragting van die meisies van nege en 11 jaar oud onderskeidelik. ‘n 68-jarige derde beskuldigde het selfdood gepleeg voordat die hofsaak vroeër vanjaar ‘n aanvang geneem het.
Die hof het gehoor dat die meisies tussen 2022 en 2023 sistematies misbruik is nadat hul ouers geskei is. Die meisies is in die sorg van die pa gelaat wat hulle fisiek ernstig aangerand het en hulle aan seksuele uitbuiting blootgestel het. Die pa het ook beide die meisies verkrag.
Ontstellende getuienis is in die hof gelei dat die pa die kinders dikwels ernstig met ‘n beld aangerand het. Met tye, wanneer hy nie in staat was om sy werkers te betaal nie, het hy sy dogters vir seksuele misbruik as betaling aangebied.
In ander afsonderlike voorvalle het die pa se vriend die meisies na ‘n afgesonderde area naby ‘n dam geneem waar hy hulle herhaaldelik verkrag het.
“Die mishandeling het tussen Augustus en November 2023 aan die lig gekom toe ‘n onderwyser kommerwekkende gedragsveranderinge by die meisies opgemerk het. Na die onthulling van die mishandeling het die onderwyser onmiddellik die toepaslike owerhede in kennis gestel. Hulle is uit die sorg van die pa verwyder en na ‘n plek van veiligheid geneem,” het die polisie se provinsiale woordvoerder, Malesela Ledwaba gesê.
Volgens Ledwaba het ‘n remediërende onderwyser die meisies gevra om ‘n brief te skryf oor wat hul gelukkig of ongelukkig maak. Die meisies se briewe het die ontstellende gebeure bevat.
Die pa is aanvanklik op borgtog vrygelaat, maar is weer later in hegtenis geneem nadat hy getuies probeer intimideer het.




