Local news

Steyn-egpaar vier 66 jaar

Die geheim van ‘n huwelik wat 66 jaar hou is volgens die Steyns respek, liefde, omgee en om jou maat te aanvaar net soos hy of sy is.

TZANEEN – ‘n Tzaneense egpaar, Louis en Baba Steyn, het verlede Saterdag, 12 Julie, hul 66ste huweliksherdenking gevier.

Die egpaar woon tans in Macadamia.

Volgens hul dogter, Isabel Pieterse, is haar ouers in 1959 in die N.G. Kerk in Aliwal-Noord getroud, na ’n hofmakery van ongeveer twee jaar.

“Hulle het mekaar ontmoet toe my pa se vriend, Theo, hom een naweek saamgeneem het Aliwal-Noord toe. Theo het daar by my ma se suster gekuier, en so het alles begin.”

Na hul troue het hulle op die familieplaas, Mooiplaas, naby Trompsburg, gaan woon en met merinoskape geboer.

In 1964 het hulle hul eie plaas, Fonteine, in die Rosmead-distrik naby Middelburg in die Kaap, gekoop. Daar het hulle weer met merinos geboer, asook ‘n melkery bedryf en renperde gehad.

In 1978 het hulle Fonteine verkoop en ’n nuwe begin gemaak op Vaalbank in die Venterstad-distrik, waar die boerdery uitgebrei is na merinoskape, renperde en ook ’n marino-vleisstoet.

In 1995 het hulle afgetree en na Bloemfontein verhuis, en in 2021 het hulle na Tzaneen getrek.

Die Steyns het drie kinders, ‘n seun Nicolaas wat in Bultfontein geboer het en in 2019 oorlede is. Hy het drie kinders en vier kleinkinders agtergelaat.

Hul dogter Susan Oelofse woon in Pringlebaai, en Isabel in die Letsitele-omgewing en bestuur haar eie kleuterskool, Jack and Jill Pre-Primary School. Sy het vier kinders en twee kleinkinders.

Isabel het aan die Herald gesê dat die verlies van hul seun in 2019 een van hul swaarste tye was, maar hul geloof, liefde en hul gesin het hulle daardeur gedra.

Die geheim van ‘n huwelik wat 66 jaar hou is volgens die Steyns respek, liefde, omgee en om jou maat te aanvaar net soos hy of sy is.

En as jy vir oupa Louis vra? “Moet nooit met jou vrou stry nie, sê net: ‘Ja Ma, nee Ma,’ en doen dan wat jy wil!”

Isabel sê haar ouers se huwelik is ‘n inspirasie vir ander, ’n voorbeeld van deursettingsvermoë, opoffering en ’n liefde wat staande bly deur elke seisoen van die lewe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Tanaiya Lees

Tanaiya Lees is the Digital Coordinator for the Polokwane Review-Observer and the Letaba, Phalaborwa, Hoedspruit, Mopani, and Regional Herald. She holds a Diploma in Journalism, and a BA in Communications and Psychology. With an interest in storytelling and a strong commitment to accuracy, her goal is to produce high-quality content that truly connects with readers. She aims to amplify the voices of those who need it most, shine a light on important issues, and inspire meaningful conversations. Tanaiya firmly believes in the power of journalism to effect change and is dedicated to being a part of that change.

Related Articles

Back to top button