Laeveld-boere gee alles in kykNET se Moer ‘n Boer-finaal
Letsitele se Ruan Burger en Hoedspruit se Hannes Malan het hul plase vir die ring verruil en in die finaal van kykNET se Moer 'n Boer hul vuiste die praatwerk laat doen.
LIMPOPO – Twee Laeveld-boere, wat saam vir die kykNET-reeks Moer ‘n Boer ingeskryf het, het op 19 September in die kollig van die derde seisoen se finale vegaand gestaan: een met ‘n vinnige submission-oorwinning, die ander met ‘n geveg wat as Geveg van die Aand aangewys is.
Letsitele se Ruan slaan vinnig toe
Die Letsitele-groenteboer Ruan Burger (32), met die bynaam T-Rex Detensie, het sy swaargewigtoegang in die eerste ronde beklink.
Hy het Gielie Wessels, ‘n sitrusboer van Addo in die Oos-Kaap, na net 2:57 met ‘n guilotine-greep (submission) laat afklop.
Hoedspruit se Hannes veg tot die einde
Burger se vriend en mede-inskrywer, die bees- en buffelboer Hannes Malan (35) van die plaas Brandberg in die Hoedspruit-omgewing, het in dieselfde afdeling teen Henko Marais, ‘n skaap- en mielieboer van Lichtenburg, geveg.
Marais het die geveg met ‘n meerderheidsbesluit gewen, met die skeidsregters se puntetellings 28/28, 29/27 en 29/27. Die geveg het die erkenning van Geveg van die Aand verower.
Boere in die ring
Moer ‘n Boer is ‘n gewilde werklikheidsreeks en gemengde vegkuns-(MMA)-inisiatief waar boere hul plase verruil om intense MMA-afrigting te ontvang en op ‘n regstreekse “fight night” teen mekaar te veg.




