Plaasdogtertjie (2) veg vir haar lewe ná seldsame breinontsteking
Die Lombard-gesin, wat sterk bande met Tzaneen het, klou vas aan hoop terwyl hul tweejarige dogtertjie in die intensiewesorgeenheid behandel word.
TZANEEN – ‘n Amper tweejarige plaasdogtertjie van Naboomspruit veg tans vir haar lewe in die intensiewesorgeenheid van Die Wilgers-hospitaal in Pretoria nadat ‘n virusinfeksie tot ‘n ernstige vorm van breinontsteking gelei het.
Klein Allé Lombard, dogtertjie van Anri en Barend Lombard, ‘n egpaar met diep wortels in Tzaneen, is in ‘n koma nadat sy met acute necrotizing encephalopathy (ANE), ‘n seldsame en ernstige vorm van breinontsteking, gediagnoseer is.

Van gewone siekte tot mediese krisis
Wat aanvanklik na ‘n gewone siekte gelyk het, het binne enkele dae in ‘n mediese krisis ontaard.
Volgens Anri het Allé ‘n uitslag ontwikkel wat aanvanklik soos ‘n insekbyt gelyk het. Die uitslag, wat die volgende dag reeds verdwyn het, was later ‘n belangrike leidraad in die verloop van haar siekte.
Allé was daarna effens siekerig, maar het op Donderdag 12 November skielik baie siek geword. Haar ouers het onmiddellik met haar na Pretoria gejaag en hulle is onderweg op die N1 deur ‘n ambulans ontmoet, waarna sy vir verdere mediese behandeling eers na Montana-hospitaal en daarna na Die Wilgers-hospitaal geneem is.
Seldsame diagnose en onseker prognose
Daar is vasgestel dat sy ANE het, wat in haar geval deur ‘n menslike herpesvirus 6-infeksie (HHV-6) veroorsaak is. Die virus het ‘n ernstige inflammatoriese reaksie in haar brein ontketen.
Volgens haar familie is Allé kritiek, en haar toestand wissel met tyd. Sy bly in ‘n koma en word voortdurend in die intensiewesorgeenheid gemonitor en behandel. Verskeie toetse word gedoen om haar toestand te monitor en haar mediese span se behandeling te rig.
Teen druktyd Dinsdag was Allé se prognose onseker en haar familie moet voorlopig wag om te sien hoe haar liggaam op die behandeling reageer en of sy die infeksie en die gevolge daarvan kan oorkom.
Gesin hou vas aan hoop
Hoewel die Lombards tans in die Naboomspruit-omgewing woon, kom albei oorspronklik van Tzaneen. Barend is ‘n boer en betrokke by die jagbedryf, terwyl Anri as veeartsenykundige fisioterapeut werk.
Die gesin het onlangs ook nog ‘n dogtertjie, Alri, ryker geword wat maar ses weke oud is. Sy word tans deur haar ouma en oupa, Kowani en Adriaan Janse van Rensburg, op Mooketsi versorg terwyl haar ouers by Allé in Pretoria is.
Gemeenskap bid saam
Familie, vriende en inwoners kan Allé se vordering volg op die Facebook-blad Bid vir Allé / Prayers for Allé, waar gereelde opdaterings oor haar toestand gedeel word.




