
Bokant oumagrootjie se gunsteling stoel, daar waar sy soggens en saans haar “stiltetyd” gehou het, het ‘n ding gehang.
Vandat ek kan onthou. Dieselfe ding op dieselfde plek.
Dis eers hier iewers op laerskool toe ek leer lees het kon ek sin maak van dit wat daar gestan het, (daai jare het mens nie kleuterskool toe gegaan en geleer lees voor die tyd nie).
In verskillende skakerings van pienk en blou van vaal tot vuil die woorde : “Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder” wat fouloos in kruissteek uitgeborduur en geraam is.
Iemand het baie lank aan die ding gewerk.
Ek het altyd gewonder wie dit geborduur het.
Wonder nou nog.
My ouma kon nie eers ‘n gare deur ‘n naald ryg om ‘n knoop aan te werk nie en sy het net een broer gehad.
Ek twyfel of oom Boet naaldwerk gedoen het.
Nietemin, die ding het daar gehang en bly hang totdat ons eindelik die dag van haar begrafnis af gekom het.
Oupagrootjie was baie hartseer en het vreeslik gehuil. Hy het voor ons ingestap en dadelik na die stoel toe geloop, oumagrootjie se boek waaruit sy gelees het as sy “stiltetyd” gehou het, opgetel en die geraamde geborduurde gedoente ook afgehaal.
Ek het nie so lekker dit alles verstaan nie, na alles, ek was maar 8 of 9 jaar oud, maar nou dat ek daaraan terugdink maak alls sin.
Dit was seer sekerlik Oupie wat die ding gemaak het.
Want sy was ma wat die huis in orde gehou het en hy was pa wat vir alles anders gesorg het. Hy het gewerk van vroegdag tot laat. Hy het saans huistoe gekom met ‘n pakkie vleis wat in skoolboekpapier toegedraai was.
Hy het Saterdae die gras gesny, in die grontetuin gewerk en die kar gewas. (Darem kon ons hiermee bietjie handjie bysit toe ons bietjie groter geword het.
Hy het alles reggemaak wat gebreek het in die huis. Hy het goed van hoë rakke afgehaal as Oumie nie kon bykom nie. Hy het agter haar aangeloop in die huis en die ligte afgesit waar sy dit aan vergeet het. Hy het haar arm vasgehou as hulle by trappe afloop – sodat sy nie moet val en seerkry nie. Hy het haar hande gevryf as hulle koud was en die klein verwarmertjie naby aan haar voete gesit sodat sy alleen die hitte kon voel. Hy het die kar se deur vir haar oopgemaak en toegemaak.
Hy het alles atyd vir haar gedra.
Hy het ons kleintjies kom stilmaak as Oumie in die middae bietjie gaan loop lê het…
Ek besef nou.
As dit nie vir Oumie was nie, waarmee sou Oupie sy dae en aande omgekry het … hy het dit seker ook besef en toe het hy vir haar daai mooi lappie gemaak.
En nou dat ek groot is en kyk so terug na al die mans in my lewe… my oupa, my pa … my eie wederhelfte.
Dan wonder ek hoekom is daar nie sulke lappies wat sê : “Wat is ‘n huis sonder ‘n Vader nie”



