Tzaneeners baljaar op hul fietse by die ‘Mango’
Honderde bergfietsryers en altesaam 1322 feesgangers het die afgelope naweek die Mango Mania Fees by Bavaria Fruit Estates in die buitelug geniet.
In die 70km bergfietswedren het Pieter Hennop eerste die roete voltooi in ‘n tyd van 02:35:41. Hennop trap sodoende ook die eersteplek in die veteraanskategorie los. Tweede oor die eindstreep is Franco Pelser met ‘n tyd van 02:36:03 en hy wen dan met dié tyd ook die eersteplek in die Elite-kategorie.
Derek Ackermann, is algeheel derde en wen die subveteraan kategorie met ‘n tyd van 02:36:18. Shani Rudder is die eerste vrou oor die eindstreep, gevolg deur Amanda de Wet en Lizelle Cronjé. ‘n Totaal van 59 fietsryers het die uitdaging voltooi. John Menster is die wenner van die meesterskategorie met ‘n tyd van 02:36:40 gevolg Willie Horn in die tweedeplek.
Dick Rood hou ook Tzaneen se naam hoog en voltooi die resies in 02:49:33 en neem sodoende die derdeplek op die podium in die 70km meesters kategorie. Meer as 200 fietsryers het die 35km bergfietstydren aangedurf.

Dit was ‘n naelbytresies met die eerste drie fietsryers wat binne sekondes van mekaar oor die eindstreep gejaag het. Die Elite-ryer, Janco Peens neem ook die algehele eersteplek in die resies met ‘n tyd van 01:17:14 kort op sy hakke is Willie Willemse (jnr) wat die wedren in 01:14:15 voltooi het.
Lees ook: Get ready for the Mango Mania MTB Challenge 2020
Willemse wen ook eersteplek in die junior kategorie met dié spog tyd. Henro van der Walt neem die algehele derdeplek in ‘n tyd van 01:17:20 en wen sodoende die eersteplek in die sub junior kategorie. Anke Rood is die eerste vrou oor die eindstreep in die 35km wedren in ‘n tyd van 01:29:46, sy wen ook eersteplek in die jeugkategorie.
In die vrouekategorie is Chantal Weyers en Karla Durant in die tweede en derdeplek, onderskeidelik. Dorothy Rood wen die vroue veteraan kategorie in ‘n tyd van 01:37:39 gevolg deur Wilma Willemse en Anita Visagie. Janis von Johannies het die 15km uitdaging in die vinnigste tyd voltooi.
Sy neem die eersteplek in die vroue afdeling en in die sub veteraan kategorie met ‘n tyd van 41:53. Sy word gevolg deur Chantene van Wyngaardt en Cianke Louw in die vroue-afdeling. Alwyn van Zyl neem die eersteplek in die mansafdeling in ‘n tyd van 42:04 en wen sodoende ook die veteraan kategorie.
Chris McKenzie is in die tweedeplek met ‘n tyd van 42:12 en wen ook die meesters kategorie. Johan du Preez van Bavaria Fruit Estates verduidelik dat die fees ongeveer sewe jaar gelede begin is om mense meer van mangoes, oftewel veselperskes te leer.
“Ons het dit goed gedink siende dat ons area die grootste mango produsente in die land is om mense op ‘n feestelike manier meer van die verskillende kultivars te leer en ook die geleentheid te gee om self te proe en self te gaan pluk op die plaas,” vertel Du Preez.
“Ons het vir pret ‘n fietsrygeleentheid gereël hier op die plaas en nou het dit al so gegroei dat dit deur Hoedspruit Fietsryklub behartig word en ook die eerste resies op die Limpopo kalender is wat vir die ryers kan doen om punte vir die seisoen aan te teken en uiteindelik Limpopo kleure in fietssry te te verwerf.
Die fietsrywedrenroete span oor Bavaria Fruit Estates en ons buurplase, Blydevallei Boerdery se grond,” voeg hy trots by. Bavaria verbou tans meer as 90 verskillende mango kultivars van reg oor die wêreld. “Dit vorm deel van ons eie toets en teelprogram en feesgangers kon Saterdag 57 van die verskillende mangoes self sien en proe.
Ons geniet dit ook om die verbruikers se terugvoer oor die kultivars te hoor,” sê Du Preez. Om terug te ploeg word die geld wat op die geleentheid ingesamel word geskenk aan Gorutha, Bavaria Fruit Estates se eie NGO, wat die kleuterskool vir werkers ondersteun.



