Vossies se Red Caps tops in Limpopo
Met die oorwinning het die Vossies gekwalifiseer vir die Noordvaal-kwarteindstryd teen Hoërskool Dr. Malan wat op 25 Oktober op die Vossies se velde gespeel is.
TZANEEN – Die Hoërskool Ben Vorster se o/15 A-seunskrieketspan, die Red Caps, het op Saterdag 18 Oktober in die Limpopo Super Ligafinaal teen Merensky Landbou Akademie gespeel.
Merensky het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Met hul telling op 89/8 na 27 boulbeurte was die Plasies egter diep in die moeilikheid. Hul eindkolwers stel hul egter in staat om ‘n telling van 151 almal uit te bereik in 40 boulbeurte.
Hayden Opperman is ‘n doring in die vlees van die Plasie-kolwers en neem 3 paaltjies vir 27 lopies in sy 10 boulbeurte.
Hy word goed ondersteun deur Dumisani Manyama, 3 paaltjies vir 30 lopies en Shane Nkuna, 2 paaltjies vir 26 lopies.
In die Vossies se kolfbeurt teken Christiaan Duvenhage ‘n vinnige 34 lopies van 29 balle aan voor hy sy paaltjie verloor. Met die aanbreek van middagete staan die telling op 48/2 na 9 boulbeurte.
Met Talent Ndhlovu, 65 van 43 balle en Hayden Opperman, 24 van 39 balle, voor die penne bereik die Plasies die wentelling van 152 in die 24ste boulbeurt en wen die Vossies die eindstryd oortuigend met 7 paaltjies.
Met die oorwinning het die Vossies gekwalifiseer vir die Noordvaal-kwarteindstryd teen Hoërskool Dr. Malan wat op 25 Oktober op die Vossies se velde gespeel is.
Die Vossies moes ongelukkig hier die knie buig in die laaste wedstryd van die seisoen.
Vossies se hoofkrieketafrigter sê die o/15-span het ‘n merkwaardige seisoen beleef. “Die hunkering om te presteer en elke wedstryd te verbeter.
Tesame met die vele ure wat die spelers gedurende die seisoen ingesit het, het alles bygedra tot ‘n baie suksesvolle seisoen.
“Die spelers en afrigters se passie was die fondament van ons sukses,” het De Jager aan die Herald gesê.




