Krieket teen die stroom in
In die Hoedspruit omgewing is krieket aan die lewe en asemhaal. En nee, dis nie net by die skole en groter, meer bekende klubs nie.
Dis die The Oaks klub, onder leiding van Cavaan Moyakamela, waar jong swart kinders van alle ouderdomme ‘n tuiste gevind het.
Hierdie kinders se brandende begeerte om een van Suid-Afrika se gewildste sportsoorte te speel, is direk teenstrydig met hul toegang tot behoorlike fasiliteite en toerusting.
Hulle liefde vir die spel, sowel as hul tegniese vaardighede is omtrént iets om te aanskou.
Tydens die Herald se besoek by een van hul oefeninge, was dit verstommend om te sien hoe hulle, ten spyte van die gebrekkige omstandighede en toerusting, steeds met entoesiasme en geesdrif, op harde beton agter balle aan duik en gly.

Moet ook nie vir ‘n oomblik dink dit is bloot ‘n getonk nie.
Die kolwers kolf met reguit kolwe en elke bal word op meriete gespeel.
Elke bal word geboul en gespeel asof dit die laaste en deurslaggewende aflewering in ‘n Internasionale wedstryd is.
Afrigter Cavaan probeer ook nie die kalklig steel of sy spelers oordonder nie.
Daar is iets vaderliks aan die manier hoe hy sy ouens hanteer en aan die manier wat hul met respek na hom opkyk.

Daar is iets ongeloofliks daaraan om ‘n 14-jarige kind in plakkies te sien ‘n dryfhou van die agtervoet af deur die dekke speel.
In die Suid-Afrika waar ons vandag lewe, is daar voor en tydens elke Wêreld Beker, omtrent ‘n bohaai oor die min spelers van kleur wat vir die Nasionale span gekies word.
Elke keer word daar gedreig met kwotas en steeds gaan soek niemand die wortel van die kwaad nie.
Elke keer wanneer spelers, soos hierdie kinders, ‘n stel beenskutte tussen twee kolwers moet deel, of op klipharde beton agter ‘n bal aan duik, sterf ‘n stukkie van die siel van Suid-Afrikaanse krieket.

Hoe is dit moontlik dat geesdriftige spelers soos hierdie kinders in die moderne wêreld van sosiale media en die sogenaamde “six degrees of seperation” steeds deur die krake van die stelsel kan val?
Is daar geen skool of klub in die omgewing wat hul kan help met plek om te oefen nie? Wat doen die krieket owerhede om die spel op grondvlak te bevorder?
Of gaan al die krieket inkomstes in Suid-Afrika vir salarisse van die ringkoppe in beheer? Die Herald gaan probeer om as skakel te dien tussen die gemeenskap en hierdie klub.
Enige persoon of instansie wat belangstel om te help, sou dit met borgskappe, toerusting, fasiliteite of selfs ‘n waterpunt by hul oefeninge, word versoek om asb van hulle te laat hoor.

Enige navrae kan gerig word aan hendrik@herald.co.za (of skakel 0798613723) so ook enige persoon of instansie wat op enige manier kan help om hierdie kinders se omstandighede te verbeter.
Kom mense, hou op krieket kyk en hélp krieket vir ‘n verandering. Lesers kan gerus ook op die Herald se webwerf (www.herald.co.za) gaan loer vir meer foto’s van hierdie ongelooflike krieket klub.



