Die Raakrugbyliga kom tot ‘n einde
Letaba Rugbyklub se raakrugbyliga het verlede week Woensdag, 25 Oktober tot 'n einde gekom met Letaba Decepticons wat as wenners gekroon is.
Die finale aand van die liga was ‘n reuse sukses met talle families wat opgedaag het om die rugbymanne te ondersteun, wat dit beslis almal se moeite werd gemaak het.
Die aand is ‘afgetik’ deur Letaba Decepticons in hulle halfeindstryd teen No Regrets.
Wat gevolg het was beslis die wedstryd van die liga gewees.
LEES OOK: Letaba Rugby 7’s span sê dankie
Die manne van Letaba en No Regrets het die toeskouers gewys presies hoe ordentlike rugby gespeel word.
Na ‘n naelbyt wedstryd het Letaba Decepticons deur gedring na die finaal.

In die tweede halfeindstryd het Old Boys en Extreme ATV teen mekaar gespeel.
Die Extreme ATV span het min verteenwoordigers gehad en daarom het die dames besluit om bietjie deel te raak van die rugby.
Die dames het slegs vir die Old Boys gewys dat hulle ook rugby kan speel.
Ten spyte van ‘n goeie poging, kon die dames nie Old Boys terug hou nie, wat met Letaba Decepticons kragte gemeet het in die finaal.
Eers was die uitspeelwedstryd vir derde- en vierdeplek tussen No Regrets en Extreme ATV.

Alhoewel die dames van Extreme ATV weer eens ‘n goeie poging ingesit het, het No Regrets derdeplek hulle s’n gemaak na hul 5-3 gewen het.
Die finaal was gekenmerk deur die ervaring van Old Boys en die jong talent van Letaba.
Na blitsige drieë deur Juan Coetzee (Old Boys) en Carel O’Neill (Letaba Decepticons) was die telling een-elk na 14 minute en die spanne moes dus ‘sudden death’ speel om die wenner te bepaal.
Te danke aan ‘n drie deur Sidwell ‘Rasenge’ Kubayi het Letaba Decepticons as wenners geëindig.
Almal wat aan die liga deelgeneem het dit uiters geniet en sien uit na die volgende een.
Letaba Rugbyklub beplan om in Januarie 2018 nog ‘n raakrugbyliga aan te bied om belangstelling in die klub se rugby aan te moedig.



