Letaba vermorsel Unilim 122-3
Die arme Universiteit van Limpopo (Unilim) Rugbyklub se twee spanne het hulle Woensdagaand, 2 Mei teen ‘n genadelose Letaba vasgeloop en twee groot pakke slae op die lyf geloop.
Letaba se eerstespan het Unilim met ‘n allemintige 122-3 vermorsel en in die proses 18 keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier.
Carel O’Neill was een van vele uitblinkers en hy het vyf drieë gedruk.
MJ Bensch is as speler van die wedstryd aangewys, maar met so ‘n groot wentelling kon dit aan enige van die spelers gegaan het. Die tweedespan het hulle onoorwonne rekord maklik behou en met 74-0 gewen.
Johan van der Westhuizen en Ruan Roets het elk drie drieë gedruk in ‘n span wat sedert die aanvang van die liga puik rugby speel.
Beide spanne van Letaba het hul teenstanders in alle fasette oorheers, maar Unilim verdien ‘n pluimpie dat hulle nooit gaan lê het nie en minstens vir die bepaling opgedaag het – wat nie van al die klubs in die provinsie gesê kan word nie.



