Merensky-boogskuts skitter by wêreldkampioenskappe in VSA
Henk Meyer het sy pad na 'n wêreldtitel gebaan, terwyl Nathan Swanepoel by die Amerikaanse kampioenskappe in Yankton reeds op dag een 'n nuwe rekord opgestel het.
TZANEEN – Merensky Landbou Akademie se Henk Meyer en Nathan Swanepoel het Suid-Afrika verteenwoordig tydens twee internasionale boogskietkompetisies oor agt dae in Yankton, VSA.
Plasies meet kragte met wêreldbekende skuts
Die kompetisies het afgeskop met die Amerikaanse nasionale kampioenskappe, waar die Plasies teen wêreldbekende professionele boogskuts meegeding het. Henk het in die volwasse afdeling deelgeneem, terwyl Nathan in die jongvolwasse-afdeling meegeding het.
Op die eerste dag het Nathan tydens die Field Round ‘n nuwe Amerikaanse rekord opgestel. Die tweede dag se Hunter Round is in versengende hitte van tot 48 °C beslis.
Hoewel baie deelnemers van die kompetisie onttrek het, het Henk en Nathan deurgedruk en sterk tellings aangeteken.
Henk en Nathan eindig op die podium
Henk het die voortou in sy afdeling geneem, terwyl Nathan ná ‘n uitstekende begin na die tweede plek teruggeskuif het.
Op die derde dag, tydens die Animal Round, het albei perfekte tellings behaal. Henk is as algehele wenner van sy afdeling gekroon en Nathan het ‘n tweede plek behaal.
Fokus skuif na wêreldkampioenskap
Ná die Amerikaanse kampioenskappe het die fokus na die World Field Archery Championships verskuif, waar Henk en Nathan Suid-Afrika verteenwoordig het. Hierdie keer het hulle ook teen mekaar meegeding, saam met twee Amerikaanse boogskuts.
Ten spyte daarvan dat hulle teenstanders was, het hulle mekaar deurentyd ondersteun en ware sportmanskap en vriendskap uitgeleef.
Henk het reeds op die eerste dag die voortou geneem, met Nathan kort op sy hakke in die tweede plek.
Henk kroon homself wêreldkampioen
Op die tweede dag het Henk sy voorsprong behou en terselfdertyd sy persoonlike beste telling ooit aangeteken, terwyl Nathan ná sterk kompetisie na die derde plek geskuif het.
Op die derde dag het albei weer perfekte tellings geskiet.
Die vierde dag het wind en reën die kompetisie aansienlik moeiliker gemaak, maar Henk het steeds sy eerste plek behou en Nathan sy derde plek verdedig.
Op die laaste dag het uiters sterk windstoestande talle skuts laat sukkel om selfs die teikens te tref.
Henk het egter sy uitstekende vorm voortgesit en as algehele wêreldkampioen geëindig, terwyl Nathan, ondanks die moeilike omstandighede, ‘n nuwe persoonlike beste telling aangeteken het en die wêreldkampioenskap in die derde plek afgesluit het.




