Merensky-meisies wen Noordstreek A-liga-tennistitel
Ná 'n knap 4–2 oorwinning teen Pietersburg Hoërskool, is Merensky se meisiespan as Noordstreek A-liga-tenniskampioene gekroon. Die Limpopo-finaal volg.
TZANEEN – Merensky Landbou Akademie se eerste tennisspanne het op Woensdag, 9 September, hul A-liga Noordstreek-finaal gespeel, met die Plasie-meisies wat die dag op ‘n hoogtepunt afgesluit het en as Noordstreek-ligawenners gekroon is.
‘n Naelbyt-halfeindstryd
Die meisiespan het eers vir Curro Heuwelkruin in die halfeindstryd aangedurf. Ná die enkel- en dubbelwedstryde was die telling 3–3 gelykop, waarna die potte-telling die wenner moes bepaal.
Die Plasies het met 23–19 die oorhand gekry en hul plek in die eindstryd teen Pietersburg Hoërskool bespreek.
Meisies wys hul staal in die finaal
In die eindstryd het die meisies behoorlik hul staal gewys.
Meninke Myburgh, Micke Pieterse, Ilana Lubbe en Nadia Honiball het elk hul enkelwedstryde gewen.
Hoewel die Plasies albei dubbelwedstryde naelskraaps met 4–5 verloor het, was vier oorwinnings uit ses genoeg om PHS met 4–2 te klop en die Noordstreek A-liga-titel te verower.
Seuns eindig as naaswenners
Die eerste seunspan het op dieselfde dag teen PHS in hul Noordstreek-finaal te staan gekom.
Willem Mostert het Merensky se oorwinning van die dag behaal deur sy enkelwedstryd met 5–0 te wen.
PHS het uiteindelik vyf van die ses wedstryde gewen, wat beteken dat die Plasie-seuns die Noordstreek-liga as naaswenners afsluit.
Die meisies se volgende uitdaging is die Limpopo-finaal, met die datum wat nog bevestig moet word, terwyl die seuns van 2 tot 5 Oktober na Sun City toer.




