School sportSport

Oud-Vossie oorwin moordende Absa Cape Epic

‘n Oud-leerling van die Hoërskool Ben Vorster, Moné Pieterse, wat in 2013 gematrikuleer het, en haar pa, Mark Pieterse, wat ook haar spanmaat was het in Maart die ABSA Cape Epic bergfietsresies voltooi.

Hierdie jaarlikse resies word beskou as die ‘Tour de France van bergfietsry’ en strek oor 8 dae en 691km met ‘n klim van 15 400m.

Die Epic word gereken as een van die uitdagendse bergfietswedrenne ter wêreld en wêreld- en olimpiese kampioenfietsryers ag dit as ‘n groot eer om die Epic te wen.

Deelnemers, wat d.m.v. ‘n lotery geselekteer word, word beperk tot 650 spanne van twee ryers elk. Moné, wat vandat haar pa die Epic in 2008 suksesvol afgelê het daarvan gedroom het om aan die wedren deel te neem, het in 2016 vir die lotery ingeskryf.

Op 22 jaar was Moné en Jenny Rissveds, die huidige olimpiese vroue bergfietskampioen, die jongste dames wat deelgeneem het.

Hierdie jaar is 52 lande by die Epic verteenwoordig.

Weens die sterk internasionale verteenwoordiging is die daaglikse hoogtepunte en die laaste dag van die wedren, beter bekend as die “Grand Finale” in 30 lande uitgesaai.

Die roete, wat elke jaar verander, het vanjaar gestrek van Hermanus na Paarl, via Greyton en Grabouw. Die wedren behels ‘n tydtoets en sewe skofte.

Die wedren was hierdie jaar, soos gewoonlik, gekenmerk deur heelwat drama, met 10% van die deelnemers wat reeds op die eerste skof weens dehidrasie, die hitte en die moeilikheidsgraad van die roete tou opgegooi het.

Na gelang van die intense temperature is die tweede skof van 101km verkort na 62km, iets wat in die wedren se 14 jaar nog nooit gedoen is nie. Twintig spanne het nogtans by die eerste waterpunt omgedraai en sodoende uit die wedren getree.

Moné het ten spyte van die moeilike omstandighede bly glimlag, soveel so dat een van die media fotograwe haar meegedeel het dat sy die vriendelikste ryer van al die deelnemers was.

Wat Moné se prestasie soveel meer merkwaardig maak is dat sy nie op skool in sport uitgeblink het nie. Sy het egter geglo dat haar droom om die Epic te voltooi binne haar vermoë was en op 26 Maart vanjaar is haar droom verwesenlik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button