Vossies steeds beste rugbyskool vir groot skole
Die Hoërskool Ben Vorster het van al die grootskole wat in die Limpopo rugbyliga deelgeneem het, die meeste spanne in die finaal gehad.
Na afloop van die laaste finale, wat die afgelope naweek gespeel is, het die Vossies nou drie spanne wat Limpopo-kampioene is en vyf spanne wat naaswenners is.
Die tweede- en O/15A-span is Hoërskool Ben Vorster se nuuste Limpopo-kampioene nadat die O/15B-span hulle finaal reeds in die tweede kwartaal gewen het.
Die Vossies se 2de span het teen Hoërskool Frikkie Meyer in ‘n kop-aan-kop wedstryd te staan gekom.
Teen halftyd was die Vossies ‘n kort-sprong voor met die telling op 7-6. In die tweedehelfde het hulle hierdie voorsprong na 17-6 gerek. Frikkie Meyer het egter daarin geslaag om in die doodsnikke van die wedstryd ‘n drie te druk en te verdoel, wat die eindtelling op 17-13 tot stand gebring het.

Hendrik Massyn, Lourens Tereblanche en Maartin Kirstein was die Vossies se drie-drukkers en WJ Kriel het ‘n doelskop verdoel.
Die O/15-span het Hoërskool Merensky se enigste hoop om ‘n Limpopo kampioentrofee te verower in die wiele gery deur hulle finaal 29-24 te wen Die Vossies het die eerstehelfde gedomineer en teen halftyd 19-10 voorgeloop. Hulle het Merensky egter toegelaat om twee drieë in die tweedehelfde te druk om die telling op 26-24 te bring.
Also read: Hoërskool Ben Vorster wen die Puk-reeks
Die Vossies het egter hulle huiswerk gedoen ter voorbereiding van die finaal en die druk van ‘n Limpopo-finaal uitstekend geabsorbeer.
Hulle forseer Merensky om in die laaste minute van die wedstryd ‘n strafskop af te staan, wat die Vossies se skopper, Kabelo Kgohloane, doodkalm deur die pale gejaag het.
Die Vossies se drieë is deur die kaptein, Renzo du Plessis, wat ook die speler van die wedstryd was, Damian Viljoen en Nicky Grobler (2) gedruk. Kabelo het twee drieë verdoel.



