School sportSport

Slimmes trek by Plasies saam vir Tritech

Meer as 150 jong, ondersoekende breinkragte van Limpopo en Mpumalanga in Die Byekorf by Merensky Landbou Akademie vergader om aan vanjaar se finale Tritechronde deel te neem op 20 tot 21 Oktober.

Plasieland se jong wetenskaplikes het weereens bewys dat akademie hoog op hul prioriteitslys is, en dat hulle presies weet hoe om ‘n navorsingprojek aan te pak. Innoverende navorsing was aan die orde van die dag, met resultate wat aan beoordelaars en kundiges uit verskeie industrieë voorgelê is. Dr. Mariana Erasmus, hoof van die sentrum vir biogeochemie en nagraadse studente van die departement van volhoubare voedselsisteme en ontwikkeling van die Universiteit van die Vrystaat, het al die pad Tzaneen toe gereis om die finaliste op ‘n praktiese manier te leer hoe om gesond met voedsel om te gaan.

Daar was ook genoeg tyd vir pretaktiwiteite met ‘n vlotbougeleentheid uit herwinbare materiaal. Hierdie vlotte is getoets om te sien watter een die veiligste en vinnigste vanaf die “eiland tot vasteland” kon vaar. Merensky Landbou Akademie se MJ Pohl in graad 8 het as algehele wenner van Tritech 2023 weggestap. Sy projek, “Help, my akwariumplante wil nie groei nie”, bring hoop vir vistenkliefhebbers om met die regte en beste substraat hul akwariumplante nuwe lewe te gee. MJ het getoon dat volharding beloon word met sukses.

Hy moes proewe dikwels herhaal, ten einde die beste resultaat te verkry. ‘n Hele aantal Plasies het ook eersteplekke in hul kategorieë ingepalm. Christené Beukes, in graad 10, het die kategorie, lewenswetenskap, gewen met “Let them germinate.” Henk de Wet, ook in graad 10, het die landbouwetenskap-afdeling gewen met “Na die galg met gronderosie”. In die afdeling, omgewingswetenskap het Eddie Mostert in graad 8 se projek, “Beesgas: die oplossing vir aardverwarming”, geseëvier.

Lees ook: Swemmers laat water spat

Die spanpoging van nóg twee graad 8’s, Jana Jacobsz en Carmé Louw se “Bosveld donkie – verhitte swembad”, het die wiskunde- en tegnologiekategorie gewen. Campbell McLean in graad 10 het ‘n tweedeplek verower met sy landbouwetenskapprojek, “Groentesaad skiet wortel”. Derdeplekke het gegaan aan Mia Venter in graad 9 se landbouwetenskapprojek, “Speel klaar met vlieë”.

Simoné Schonken, ook in graad 8, se projek, “Moet nie dat die kiem die bos byt nie”, asook aan Izelri Theron, hul klasmaat, se gesondheidswetenskappeprojek, “Toets my”. Melissa Malan se “Bêre my broodjies reg!”, het vir dié graad 8-leerder ‘n derdeplek in die lewenswetenskappe-afdeling besorg. Merensky Landbou Akademie se finaliste het altesaam nege goue, ses silwer- en drie bronsmedaljes verower.

Related Articles

 
Back to top button