Daar is natuurlik dié onder on swat effens aan die korste ent trek. As kind het ek gedink dit moet vreeslik wees om op hierdie feestelike dag te verjaar. Dis mos almal se partytjie en almal kry geskenke. Ek was ook vreeslik bekommerd oor of diegene wat wel op hierdie grootse dag verjaar, darem dubbel geskenke by hul ouers en familie kry. Hier is ‘n paar mense wat op Kersfees verjaar en steeds hulle nie laat keer het om van die lewe ‘n fees te maak nie.
Humphrey Bogart is in 1899 op Kersdag gebore. Een van Hollywood se mees invloedryke sterre vandag nog, al is hy reeds in 1957 oorlede. Hy was bekend vir slim, speelse, dapper, tawwe, soms roekelose karakters wat in ‘n korrupte wereld hul eie morele kompas gevolg het.
Alistair Cook is in 1984 gebore. Het in 2006 sy debuut vir Eng gemaak. Een van die mees suksesvolle Engelse kolwers ooit, maar sy kapteinskap was gereeld onder vuur. In Mei 2015 het hy Graham Gooch verbygesteek en is tans die voorste lopiemaker in toetse vir Engeland. Hy het vroeg in 2015, tydens ‘n toets teen Nieu-Seeland, sy 9000ste toetslopie aangeteken. Dit maak hom die enigste Engeland speler wat dit tot dusver kon regkry. Hy is ook die enigste Engelse speler in die geskiedenis wat by 50 toetsoorwinnings betrokke was. Cook toer eersdaags saam met die Engelse span na Suid-Afrika.
Die Skotse kunstenaar, Annie Lennox, is in 1954 gebore. Hoewel sy as lid van die musiekgroep The Tourists, redelike sukses in die sewentigerjare gesmaak het, het haar ster eers behoorlik begin skyn na sy en mede-musikant Dave Stewart in die tagtigs as Eurythmics begin optree het. Annie is steeds ‘n geliefde kunstenaar, hoewel sy nie meer so gereeld toer of optree nie.
Dido, of te wel, Dido Florian Cloud de Bounevialle O’Malley Armstrong, is gebore in 1971 en het bekend geword in 1999 met haar debuut CD, No Angel, wat 21 miljoen copies wereldwyd verkoop het. Sy het ook verskeie toekennings met hierdie album ingepalm. Haar tweede plaat, Life for Rent (2003), het die treffers White Flag en Life for Rent ingesluit en haar sukses voortgesit. Tot op hede het sy vier albums vrygestel, met Safe Trip Home (2008) en Girl Who Got Away (2013) wat op haar eerste twee vrystellings se spore gevolg het.
Sir Isaac Newton was een van die mees invloedryke wetenskaplikes in die geskiedenis, asook ‘n sleutelfiguur in die wetenskaplike revolusie. Hy is 1642 gebore. Newton se boek, philosophiae Naturalis principia is die eerste keer in 1687 gepubliseer en het basies die fondamente vir moderne meganika gelê.
Hierdie Kersfees is dit dalk ‘n goeie idée om ‘n ekstra geskenk te gee as jy iemand ken van hierdie feesgety verjaar. Men sweet nooit waar in die geskiedenisboeke daardie person eendag gaan opeindig nie.



