
‘SKÊRE praat met jou, hulle het ‘n ritme. En as ek eers begin knip, knip-dans ek daarop.’
Reinette Erasmus is seker die enigste plaaslike vroulike barbier, of ten minste waarvan Letaba Herald weet.
Soos van ouds. ‘n Barbier.
Na haar pa, die bekende Willie Horn, se afsterwe verlede jaar het sy besluit om sy haarsny tradisie voort te sit.
Net soos wat hy haar geleer het.
Vroeg Maandagoggend sit haar eerste kliënt vir die dag op die 1929 Chicago haarkapperstoel.
Tzaneen se eie legende, Kosie van Niekerk, wat sy haardos so bietjie kom ‘trim’ het.
‘Dit is my plek hierdie, vertel hy, ‘ek sny my hare net hier, nêrens anders in Tzaneen nie.’
Reinette maak klaar met Kosie, hy betaal en hy stap dood dollies uit.
‘Pas jouself op hoor,’ sê Kosie in die verbygaan vir haar.
‘Ek het my pa as klein dogtertjie altyd op Saterdae gehelp in sy haarkappery, destyds in Randfontein.

‘Ek het maar gehelp met klein dingetjies, soos geld vat, hare opvee en natuurlik baie gesels met almal,’ vertel Erasmus.
En gesels is mos so deel van ‘n ‘salon.’ Nee, nie ‘n salon nie. Dit bly ‘n mans haarkappery.
‘n ‘Barber-shop’. Willies haarkapper.
‘My pa was baie geliefd onder al sy gereëlde kliënte. Hy was maar altyd ‘n haarkapper in murg en been.’
Van sy klein begin in Randfontein, saam ‘n ene Japie Notnagel, daarna is hy na Namibie en Polokwane.
Maar dit is in Tzaneen waar hy wortel geskiet het met sy eie besigheid. Reinette vertel dat haar pa se besigheid bekend gestaan het onder almal as ‘Die klein rooi haarkapertjie.’
Willie is verlede jaar in Februarie oorlede.
‘Snaaks genoeg, tydens die oggend van my pa se dood, was die eerste kliënt hier. Ek het die deur maar oopgesluit en sy hare gesny,’ vertel sy. 24/7, Maandae tot Sondae, Reinette staan gereed om enige haardos onder haar bekwame hande met ‘n sker by te kom.
Net soos wat haar pa haar geleer het.
‘Ek dink ek is die enigste 24/7 haarsalon in Tzaneen. Maar hulle moet maar net skakel op ‘n Saterdag of Sondag om seker te maak ek is hier. Ek is altyd bereid om te help. My pa was baie lief vir spieëls. As hy gewag het vir die volgende afspraak het hy op die stoel gesit en na die spieël gekyk.’
En ‘n mens wonder wat oom Willie alles gedink het as hy so na die spieël gesit en kyk het. Groot drome? Of net gelukkig dat hy doen wat vir hom die lekkerste was en tevrede is.

‘Na my pa se afsterwe het ek alles opgegee en van Nigel hierheen verhuis. My pa het my opgelei, en ek wou sy tradisie voortsit.’
En sy doen dit. Met alles, net soos wat haar pa haar geleer het.
‘Dit gaan oor opregtheid, liefde vir mense, handig wees en die grootste is integriteit. Dit is wat my pa my geleer het en dit is die grootste geskenk wat ek van hom ge-erf het.’
Sy vertel trots dat haar pa eendag vir haar vertel het, dat as hy die dag nie meer daar is nie, sy moet oorneem en die tradisie voortsit.
En dit is presies nou wat Reinette doen.
‘Ek het nog iets by my pa gekry. Sy wysheid. Hy het geleef vir hare sny.’
En daardie saadtjie is ook in haar geplant.
‘Elke dag is ‘n nuwe uitdaging, Party kliënte is maar moeilik, maar jy moet verdraagsaam wees en ek gee graag liefde terug, net soos wat ek dit ontvang,’ vertel sy waar sy die haarkappery nou bedryf uit die woonstel by Sanloo Manor.
Die tweede kliënt stap in. Nog ‘n bekende gesig. Victor Barnard.
Die sker knip-knip en hulle gesels land en sand. Soos ou vriende doen.
‘n Paar dinge soos wat mens onthou in mans haarkappers uit jou kleintyd is orals te sien,
Die Lenons staaldrupples, die geraamde ou note en munte, minatuur karretjies en klippe, baie klippe. En dan die tradisionele haarsnystoel.
‘n Chigago 1929.

‘n Geskenk wat sy gekry het van ‘n vriend op Hoedspruit.
‘Ek gaan die plek binnekort begin opknap en verf in die kleure van die twintigrand noot. Dit is sulke sagte verwelkomende kleure.’
En hier voel jy welkom. Meer as welkom. Vrouens ook.
‘Ek het 11 vrouens wat gereeld hier kom hare sny. Maar kort hare,’ voeg sy by.
Nou wat noem mens jou nou eintlik? wou Letaba Herald weet.
‘’n Barbier. Dis al. ‘n Mans haarkapper. Ek gaan aan met my pa se kuns, sy kennis en sy liefde wat hy my geleer het,’ sê sy trots.
‘Dit is so ‘n tradisie wat uitgesterf het. ‘n Mans haarkapper, en ek wil dit op eg tradisionele manier voortsit.’
Sy klem ‘n klein skêrtjie vas. Met baie liefde.
‘Hierdie was my pa se skêr waarmee hy begin sny het toe hy net 16 jaar oud was. Dit is vir my baie kosbaar. En hierdie,’ (sy haal ‘n swart kammetjie van die toonbank af waarvan ‘n paar tande makeer.) ‘Die kammetjie het my pa gebruik tot met sy laaste sny voor hy gesterf het.’
Knip, knip, knip. Laat sy die ou skêrtjie beweeg.
‘Skêre praat met ‘n mens. Hy het ritme. Voor jy begin om iemand se hare te sny en jy knip-knip-knip so in die lug…dan kry jy die ritme, die kliënt wag in spanning en dan waai die hare.’
Sy wil graag vir Cliff Large van Phalaborwa bedank wat haar met skêre en knippers gehelp het om op die been te kom, en al die gereelde kliënte wat haar gedra het tot nou toe.
En nou is dit vorentoe.
Soos ‘n skeermes wat op ‘n nommer een die pad oopskeer.
‘n Pad wat voortgesit word op haar pa se eg tradisionele barbier-manier.
Vir ‘n haarsny afspraak, skakel haar gerus op: 082 720 0300.




