FeaturesLifestyle

Tzaneen atleet bewaarheid droom en hardloop haar eerste #Comrades

Wat 'n droom was vir Liana van Niekerk, is die jaar bewaarheid toe sy haar heel eerste Comrades Marathon gehardloop en in tyd klaar gemaak het.

Liana vertel dat sy altyd deel daarvan was, maar voor die kassie as sy haarself ingeleef het.

Sy het egter in April 2015 begin om 1km te hardloop op ‘n grondpaadjie naby hulle huis.

Daardie Julie het sy haar eerste marathon van 42.2km aangepak, ongelukkig het sy ‘n liesbesering opgedoen waarmee sy vir lank gesukkel het.

Sy kon vir baie lank na die besering nie hardloop nie.

Lees ook: Eerste Falconwood Tunnel Trail Run ‘n avontuur

In Desember het sy weer begin hardloop maar moes omtrent van onder af weer begin.

Sy het in Maart 2016 haar eerste half marathon van 21.1km gehardloop en daarna ook weer ‘n hele paar half marathons gedoen.

Einde Julie het sy weer met ‘n oefenprogram begin wat haar voorberei vir 42.2km.

“Dit het baie goed gegaan met my voorbereiding. Ek het intussen toevallig ‘n ander passievolle atleet, wat al vyf Comrades Marathons voltooi het, ontmoet. Ons het Saterdae saam ons lang hardloop sessies gedoen. Christiane van Niekerk het my soveel geleer, gehelp, gemotiveer en die lang ure op die pad het sommer baie korter geword met haar aan my sy,” vertel Liana.

As dit nie vir Christiane was nie sou Liana ook nie die Kaapsehoop marathon in tyd kon voltooi nie.

Die einste marathon het gemaak dat sy vir die Comrades kwalifiseer.

Liana het toe ook begin gym en dit het gehelp om beserings te verminder.

“Die mees uitdagende deel van die Comrades was vir my Polly Shorts. Dit is so naby aan die einde, maar steeds ‘n lang opdraende wat jy op jou baie moeë bene moet aanpak,” vertel sy verder.

Haar motivering was die Here, sy het aanhoudend die vers “Ek is tot alles instaat deur Christus wat my krag gee,” in haar kop laat maal.

Lees ook: Tzaneen runners give their all during Comrades

Ook was haar man en twee kinders ‘n groot deel van haar motivering.

Toe ek saam met Paul Zaayman oor die eindstreep gaan was ek verwonderd en ongelooflik dankbaar. Dit voel eintlik steeds soos ‘n droom,” sê Liana.

Haar raad aan atlete wat ook aan die Comrades wil deelneem is om klein, onder en stadig te begin.

Stel eers vir jouself klein doelwitte. As beserings oor jou pad kom, luister na die dokters en fisioterapeute, ook na jou eie liggaam.

Almal kry hulle af dae, in Maart moes Liana na 20km in ‘n wedloop stop, want haar liggaam en brein wou net nie verder nie.

Sy is baie bly dat haar gemoed reg was tydens die Comrades.

Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Al die duisende atlete wat saam met jou hardloop. Daar word soveel praatjies gemaak langs die pad en gelag. Mense wat jy glad nie ken nie. Net daardie bietjie afleiding van iemand wat jou moed in praat of iets met jou deel,” vertel sy verder.

Dis ook vir haar ongelooflik hoe die toeskouers van donker tot donker langs die pad staan om die atlete aan te moedig en te ondersteun.

Maak nie saak watter ras of geslag jy is nie, almal is gelyk op die pad.

Gaan sy volgende jaar weer deelneem?

“As als volgens plan verloop en met die Here se genade is ek beslis terug vir volgende jaar se afdraande Comrades, sê sy.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button