De Priester op tog na Tzaneen
Op 21 Februarie, op die vooraand van die Soutpansberg InterhoërAtletiekbyeenkoms in Tzaneen, tree hierdie geliefde kunstenaar op by Hoërskool Merensky in Die Byekorf.

Jak de Priester het die afgelope 16 jaar diep spore in die Afrikaanse musiekwêreld getrap met liedjies soos Sally Williams Nougat, Groen Mamba, Roer jou voete, die temalied van Binnelanders en vele meer.
Op 21 Februarie, op die vooraand van die Soutpansberg InterhoërAtletiekbyeenkoms in Tzaneen, tree hierdie geliefde kunstenaar op by Hoërskool Merensky in Die Byekorf.
Dis Jak se eerste stop as deel van OPTOG! – die grootste enkele konserttoer deur plaaslike sangers, akteurs en musikante wat tot op hede in Suid-Afrika aangebied is.
Elke OPTOG!-konsert is ‘n unieke ervaring en ‘n viering van ons land se talent, van kuns, kultuur en sommer van alles wat mooi is.
Alles onder een vaandel.
Meer as 40 dorpe en stede regoor die land en Namibië word besoek, en meeras 20 kunstenaars en teaterproduksies is deel van hierdie heeljaar feestelikheid op wiele.
Hoërskool Merensky is OPTOG! se trotse venue-vennoot in Tzaneen en later vanjaar sal konserte deur Laurika Rauch, Romanz en internasionale teater-ikoon, Stef Bos, ook by die skool aangebied word.
Vir Jak persoonlik, is dit ‘n nostalgiese OPTOG!:
“Ek doen ’n konsert wat my reis van 16 jaar saamvat… met liedjies van die begin af tot nou. Liedjies wat sal inspireer, wat sal laat lag en wat jou hopelik ook ‘n bietjie sal laat nadink. Ek wil ook nie te veel verklap nie, maar ons beplan ook iets baie spesiaal vir die Vrydag se groot atletiekbyeenkoms!”
Kaartjies is beskikbaar by itickets.co.za of by die skool se Mbank.
Besoek gerus ook optog.co.za vir meer inligting.



