#OPTOG! Bring Romanz na Tzaneen die naweek, Laurika en Stef is ook op tog
Bespreek deur iticket en kry R50 afslag, net vir Tzaneen!
Optog! is die naweek op pad Tzaneen toe met Romanz.
Dié nuwe teaterinisiatief, met Nataniël as beskermheer, is die grootste enkele konserttoer deur plaaslike sangers, akteurs en musikante en gaan poog om op innoverende wyse weer van ons land se gewildste musiek- en teaterproduksies planke toe te bring.
In Nataniël se woorde: “Optog! Ons bring die Kuns!”
Laurika Rauch en Stef Bos is ook in die pyplyn om in Tzaneen hulle buiging te kom maak!
Stef Bos is waarskynlik Afrikaans se grootste ambassadeur in Europa.
Bos se toerdatums vir OPTOG! is byna gefinaliseer.

Kyk: Stef bos se verwerking van Suikerbossie
Alle Suid-Afrikaners ken die heimweë wat met Laurika Rauch se musiek gepaard gaan en daarom sit sy héél voor in die Optog bus.
Vir Laurika is dit ‘n soort tuiskoms om betrokke te wees by OPTOG! Sy sê dat dit haar as’t ware ‘vol sirkel’ bring om weer meer op die platteland en soms in kleiner plekke op te tree. Só was dit heel aan die begin van haar loopbaan en sy sien daarna uit om die pad te vat en te help om ‘n kultuur te skep wat musiek weer na die mense sal bring.
Kyk: Laurika sing Nostalgie
Haar loopbaan het in 1978 vlerke gekry met die treffer, Kinders van die Wind. Liedjies soos Blouberg se Strand, Stille Waters en Stuur groete aan Mannetjies Roux, maak steeds deel uit van alle Afrikaanse huisgesinne se speellys.
Laurika maak haar buiging in Tzaneen op 15 Oktober.
Teken dit nou al aan in jou dagboek!

Romanz is een van die mees bekroonde mansgroepe ooit om Suid-Afrikaanse verhoë te betree en na ’n paar jaar van stilte is hulle terug vir ‘n reeks van reünie-konserte, spesiaal vir OPTOG!
Kyk: Ti Amo deur Romanz
Gehore sal op ‘n nostalgiese reis geneem word met van Romanz se grootste treffers en kan uitsien na gunstelinge soos Houtkruis, My hele hart en Solitaire.
’n Indrukwekkende en uiteenlopende lys van plekke regoor Suid-Afrika en Namibië word by hierdie Optog! se toerprogram ingesluit.
Dis ’n heeljaarfeestelikheid op wiele… Alles onder een vaandel!
Om vir die afslag in aanmerking te kom, volg die gewone iTickets proses om kaartjies te koop en sleutel dan die kode-woord: Tzaneen, in.
Romanz-vertoning in Tzaneen
- Datum & tyd: 9 Maart, 20:00
- Plek: Hoërskool Merensky
- Kaartjies: https://itickets.co.za/events/409743
- Meer inligting: optog.co.za
Die volledige lys van kunstenaars en produksies, asook die dorpe en stede wat ingesluit is in die baie omvattende toerprogram is beskikbaar by www.optog.co.za.



