Skoolrapport nie so goed nie, wat nou?
Die tweede kwartaal is agter die rug en rapporte is uitgedeel. In sommige huishoudings loop die trots-koors hoog want die punte is uitstekend, terwyl in ander huishoudings die teleurstelling wyd verspreid is en dalk nie noodwendig omdat die punte swak is nie, maar dalk het die kind nie volgens die ouers se verwagtinge presteer nie.

Die ontvangs van rapporte is verseker een van die mees gespanne tye in meeste gesinne se huishoudings.
Rapporte moet ‘n gedeelde ervaring wees tussen beide ouers en kinders een van gedeelde trots, verantwoordelikheid, teleurstelling en natuurlik die nodige aanpassings en veranderinge wat gemaak kan word. Kinders moet nie so bekommerd wees oor hul ouers se reaksie oor hul punte, dat hul nie selftrots ervaar of aanleer nie, maar dit eerder basseer op hoe ma en pa daarop gaan reageer.
Die doel van rapporte is om terugvoering te gee oor die kind se vordering, om uitvalle aan te dui en sodoende ruimte te skep waarbinne groei en ontwikkeling kan plaasvind. Rapporte bied bewyse van ‘n leerder se konseptuele vordering in ‘n graad en hul gereedheid om na volgende graad te bevorder of nie.
Dit moet gesien word as ‘n mate van monitering sodat vooruit beplan kan word. Dit is NIE die algehele moniteringsbewysstuk van ‘n kind se algehele waarde nie.
Praktiese wenke oor benadering van rapportspanning:
1. Kommunikasie tussen ouer en kind is van die begin af belangrik en nie eers by die ontvangs van die uitslae nie. Vra jou kind wat hul doelwitte is, waarmee hul hulp benodig, watter vakke uitdagend is en wat afdelings kan moontlike struikelblokke wees. Die gesprek tussen ouers en hul kinders is ‘n baie belangrike aspek in die aktiewe deelname van ‘n kind se opvoeding.
Luister eers voordat jy as ouer enige voorstelle maak.
2. Nadat die kind se rapport ontvang is, is dit belangrik om die gesprek op ‘n positiewe noot af te skop. Wens hul geluk met enige vordering, al is dit hoe gering, op enige vakke wat dalk voorheen uitdagend kon wees. Gelukwensing op harde werk en deursettingsvermoë is van soveel waarde. Dit is belangrik om op hard werk te fokus eerder as die punt self!
3. Vir baie ouers is ‘n teken van goeie prestasie, goeie punte maar is dit werklik al waarop verwagtinge geplaas moet word? Identifiseer, bevorder, erken en beloon goeie prestasies op alle vlakke van jou kind se lewe, nie slegs in die akademiese arena nie. Kyk na sportsoorte wat jou kind geniet en in presteer, watter gebaar van vriendelikheid het uitgestaan gedurende die kwartaal, hoe het jou kind se selfdissipline verbeter asook kreatiewe prestasies. Daar is soveel ander aspekte om ook fokus op te plaas as bloot net akademiese prestasie.
4. Te veel druk kan egter teen ‘n hoë prys kom en kan lei tot emosionele, fisiese en sosiale uitputting. Ons moet so versigtig wees om ons kinders nie “slawe van uitputting” van so vroeg in hul lewe te maak nie. Wees dus seker dat jou kind se punte en doelwitte, hul eie is, en nie ‘n refleksie van jou as ouer nie.
Wees prakties en ondersteunend, maar moet nie oorneem nie. Leer jou kind om self-dissipline aan die dag te lê, deur self doelwitte en realistiese verwagtinge te stel.
5. Moenie jou kinders se punte met die van hul sibbes of maats vergelyk nie! Elke kind is uniek en presteer op verskillende vlakke en dimensies van sukses. Gesonde plasing van verantwoordelikheid val juis in die spasie van selfwaarde sonder dat hul waarde gemeet word teen die van ander.
6. Korrekte plasing van verantwoordelikheid is ook baie belangrik. Ontleed hul vraestelle en ondersoek konsepte wat jou kind nie verstaan nie. Bly op hoogte van jou kind se vordering, vra vir jou kind se onderwyser raad oor aard van die huidige probleme, sowel as moontlike oplossings. Werk dan saam met jou kind aan ‘n plan om uitvalle en struikelblokke te hanteer.
7. Alhoewel ouers die las saam moet dra, moet ons kinders ook leer hoe om self in te spring om sodoende aan hul doelwitte te werk. ‘n Goeie of slegte punt word nie net gegee nie, maar verwerf. Maak seker jou kind weet hoe om te leer en watter studietegnieke beskikbaar is om hul te help. Leer hulle om voorbereid en konsekwent te wees, in plaas daarvan om twee weke voor toetse en eksamens eers aan die werk te spring.
Net soos ‘n afrigter alles in hul vermoë doen om die atleet voor te berei vir elke byeenkoms, is dit die atleet self wat oor die wenstreep hardloop. Aanleer van selfdissipline, binne die kind se raamwerk en vermoë, is van uiterse belang.
8.Verskaf nodige ondersteuning waar uitvalle en probleme opgetel word: • Ekstra klasse • Aanlyn-leerplatvorms soos bv. Wolkskool • “Study-buddies” by die skool • Evaluasie en hulpverlening deur ‘n professionele persoon • Uitwerk van vorige vraestelle • Studiemetode werkswinkels (dit is van uiterse belang dat kinders self die vaardighede van opsom en studeer aanleer.
Nie net kweek dit gesonde selfdissipline nie, maar skep ruimte vir elke kind om hul uniekheid te gebruik en te ontdek in hul leerproses, eerder as om “koekie-drukker” opsommings van ander te gebruik om te leer.) Jou kind is soveel meer as net die punte op hul rapport. Hul akademiese prestasie is nie die geheelbeeld nie, maar slegs ‘n gedeelte van werklike sukses. Plaas verdeelde fokus op die ander gedeeltes wat ook bydrae tot die vorming van hul menswees, soos bv.
• Respek vir self en ander; • Hoop te kweek ten spyte van omstandighede; • Veerkragtigheid aan te leer en te beoefen na teleurstellings; • Onvoorwaardelike liefde, wat nie slegs op prestasie gerig is nie; • Selfvertroue te ontwikkel wat gebaseer is op balans tussen suksesse en mislukkings, en nie slegs op sukses alleen nie. Ons as ouers moet ons ‘n huise ‘n veilige hawe maak, waar ons kinders veilig voel om teleurstellings en mislukkings te kan ervaar, sonder vrees van oordeel.
Kom ons wees bedag om huishoudings te skep waar suksesse vele dimensie het en waar die geheelbeeld van menswees verwelkom en gepromoveer word! Oorspronklike artikel geskryf deur Elisma van der Watt vir afrikaans.com en skole.co.za en aangepas op versoek van die Herald deur Naomi Grobler, geregistreerde berader van Tzaneen.



