Vrou met Korona nie meer in Middelburg
Die vrou wat positief getoets het vir die Koronavirus, is nie meer in Middelburg nie, maar onder kwarantyn by haar woning in Johannesburg.

Dr. Redge van Rensburg (woordvoerder vir geneeshere op Middelburg) het reageer op die Facebookplasing deur dr. Nadene Jooste en die berig op www.mobserver.co.za dat die eerste positiewe geval in Middelburg bevestig is.
Hy het dit duidelik gestel dat sy nié in Middelburg getoets is nie, maar in eMalahleni, waar sy voltyds werk.
Wat hy van die voorval weet, is dat die betrokke vrou ’n huis het in Middelburg, waar sy in die week bly, terwyl sy in eMalahleni werk.
Hy sê sy het kort nadat sy verneem het dat sy positief getoets is, na haar ander huis in Johannesburg vertrek, waar sy sedertdien in kwarantyn is. Volgens hom is sy egter al 10 dae gelede positief getoets en nie nou in hierdie tyd voor en tydens die 21 dae afsonderingsperiode nie.
Dr. Van Rensburg sê mense moet egter weet dat hy nie daarmee sê dat die virus nié in Middelburg kan wees nie! “Dit wil nie sê dat omdat daar niemand amptelik positief getoets is, dat die persoon wat langs jou in die supermark staan, nie die virus kan hê nie!”
Hy meld dat sommige mense wel draers van die virus kan wees en nie eers siek kan word nie. Hulle kan letterlik duisende mense so aansteek.
“Die Minister van Gesondheid het ’n brief uitgestuur waarin hulle sê dat daar nog sowat ’n 1 000 mense is wat hulle probeer opspoor wat in kontak was net Korona pasiënte. Besef julle watter impak dit op ons land kan hê?”
Hy is net so bekommerd soos die ander dokters in die dorp wat sê dat mense nie die erns van die Covid 19 virus besef nie.
Dr. Van Rensburg was self ook ooggetuie van die lang rye mense wat by supermarkte en apteke gestaan het voor die afsonderingstyd begin het. “Almal het teen mekaar gestaan en kon die virus so versprei het!”
Wat vir hom verder rede tot kommer is, is die feit dat Italië nou tot einde Julie in afsondering geplaas is.
“En ons land is besig om dieselfde profiel te volg, want daar is mense wat dit nie ernstig opneem nie.”
Hy stem saam met elke dokter daarbuite. “Bly in jou huis! As jy siek is, bel die spreekkamer. Gaan net spreekkamer toe met ’n noodgeval!”
Dr. Van Rensburg het saamgestem met ander dokters wat gesê het dat hospitale nie massas siek mense sal kan hanteer as die virus buite beheer mense infekteer nie. “Bly weg van ander mense af!”
Hy het dit uitgelig dat die Covid 19 virus met druppelbemetting net so vinnig aansteek soos tuberkulose. “As die persoon wat besmet is naby jou nies, hoes of selfs net sy oë knip, word daardie duisende druppeltjies oorgedra.”
Hy het herhaal dat dit van geen nut is dat gesonde mense maskers dra nie. ’n Siek persoon dra die masker om te keer dat die virus van hom af na ander oordra. “Maar ek verstaan dat mense die maskers dra, omdat daar soveel duisende siek mense is wat nié maskers wil dra nie.”
Interessant om te meld dat sterftes onder kinders wêreldwyd baie min is. Dr. Van Rensburg sê dit is omdat kinders nog al hul longblasies het en nog nie aan rook of vuil lug blootgestel is nie.
Dit is algemene kennis dat rokers hoë risiko gevalle is met die Covid 19 virus, maar ook mense ouer as 65, diabetes- en hartlyers, asook mense met ander siektetoestande moet wegbly van ander mense om te voorkom dat hulle die virus opdoen.
•Daar is vir dr. Van Rensburg uitgevra oor riemtelegramme wat die rondte doen dat malariapille moontlik ’n effek op die virus kan hê.
Hy sê dat daar wel in Korea proewe gedoen is, maar dat daar nog nie klinkklare bewyse daarvoor is nie.
Die boodskap het egter almal se ore bereik, “want jy sal nêrens ’n malariapil te koop kry nie,” aldus dr. Van Rensburg.
•Weens die tekort aan toetse in die land, kan mense nie voor die voet laat toets vir die virus nie. Daar moet aan streng kriteria voldoen word (wat al oral in die media genoem is). En as jy sê jy was in kontak met ’n persoon wat positief getoets is, moet jy sy besonderhede en nommer kan verskaf.
•Die virus begin binne twee tot vyf dae simptome wys en as die eerste toets negatief is en die simptome duur voort, kan ’n tweede toets aangevra word.
•Wat dr. Van Rensburg en ook ander dokters in Suid-Afrika omkrap, is dat die virus al in Juliemaand af in China was. “Die dokter wat iets daaroor gesê het, is eers in die tronk gestop, maar hy is later uitgelaat. Hyself het later aan die virus gesterf.”
•Dr. Van Rensburg het ter afsluiting dit weereens benadruk dat die siklus net gebreek kan word as mense luister en tuisbly. “Die oomblik wat dit erger versprei, sal ons dit nie kan keer nie en dan sit ons, soos Italië, vir maande in afsondering. Hulle het dieselfde houding as sekere Suid-Afrikaners gehad.”
