Sabotasie sit moontlik agter kragonderbrekings
Sabotasie sit moontlik agter Kanonkop en Dennesig se skielike kragonderbrekings sedert 03:00 vanmore.
Daar word vermoed dat die krag opsetlik by die hoofsubstasie op die hoek van Njalastraat en Sipreslaan afgesit is, omdat beide Kanonkop en Dennesig woonbuurte se krag tegelyk afgegaan het.
Kontrakteurs wat tydens die vorige staking uitgehelp het, is tans skrikkerig om weer bystand te verleen nadat hul voertuie lelik deur stakers beskadig is met ruite wat uitgeslaan is en bande wat stukkend gesny is. Die kontrakteurs self is ook geïntimideer.
Tydens Saterdag se krisisvergadering by die Nkangala Distriksmunisipaliteit is besluit dat die elekstrisiteitsdepartement en kontrakteurs van die departement sou terugkeer werk toe, nadat ’n ooreenkoms tussen die munisipaliteit en stakende werkers met betrekking tot salarisverhogings bereik is.
Daar is tydens die vergadering besluit dat die verhogings eers deur die raad in ’n formele sitting goedgekeur moet word.
Die stakers was egter nie hiervoor te vinde nie en het die elektriese departement en kontrakteurs opdrag gekry om alle werk Sondag te staak, totdat die raad die verhogings goedgekeur het.
Dennesig raadslid, Johann Dyason, sê dat hy deurnag ook kontrakteurs in Colleylaan help oppas het met die herstel van ’n waterpyp.
Intussen sukkel inwoners om raadslede in die hande te kry omdat hulle selfone weens die elektriese onderbreking nie opvangs het nie. Die selfoontorings se bystand batterye kan nie laai gedurende kragonderbrekings nie.
“Die gemeenskap is verstaanbaar boos, en ons sal moontlik Woensdag ’n spesiale raadsvergadering hê waartydens die verhogings goedgekeur sal word,” sê Kaononkop Raadslid, Helda de Klerk.
Rdl. De Klerk het bygelas dat daar egter talle munisipale werknemers is wat reeds vlak 5 salarisse ontvang, wat moontlik tot verdere ontevredenheid onder die stakers kan lei.
Volgens mnr. Dyason word daar tans gewag op die elektriese departement om virseker te sê of sabotasie wel agter die kragonderbreking sit.
Die Kanonkop/Dennesig kragonderbeking volg op dae lange kragonderbrekings in die middedorp en Eastdene, weens sabotasie. Verskeie kragkabels is gedurende die staking geknip.
•Inwoners en noodgroepe het oor die naweek in die Middedorp in Koetsstraat kontrakteurs opgepas terwyl hulle gewerk het aan die kragprobleme.
