Hemele maak oop, terwyl daar nie ’n druppel om inwoners val
Die hemelruim was Saterdagoggend in rooi, blou, silwer en swart getooi.
Inwoners van Dennesig het Donderdagaand gestaan en kyk hoe maak die hemelsluise oop, sonder dat daar ’n druppel reën om hulle geval het.
Die wispelturige weer het vir nog ’n verrassing gesorg, toe dit veral in die middedorp en Gholfsig gereën het, maar skaars vier kilometer verder, in die noorde van Middelburg, was dit kurkdroog.
’n Byeenkoms van die Middelburg Fietsryklub, wat om die gholfbaan sou plaasvind, moes afgelas word.
Hendrich Behrens, wat die byeenkoms gereël het, het fietsryers op die Cycling Media-fietsrygroep in kennis gestel “dat daar maar weer later probeer sal word”, waarop een van die fietsryers, Marcell de Villiers, laat weet het, “Kom ry in Dennesig, dit reën nie hier nie”.

Raadslid Elsie Vermooten weet beslis wat in haar Wyk aangaan, want binne vyf minute nadat daar by haar navraag gedoen is hoeveel dit in Gholfsig gereën het, laat weet sy: “Jan Cellierstraat 27 mm, Eeufeesstraat een 27 mm en Lillium Roberts vier 27 mm.”
Volgens die Middelburg-reënvalgroep het daar op 16 Oktober 40 mm in die Aerorand-omgewing geval, terwyl die res van die dorp en omliggende plase skaars ’n druppel gemeet het.
Terwyl die kraaie deur die dag gaap met versengende hitte, beleef inwoners koue oggende met die kwik wat laag bly.
Inwoners wat Saterdag op die N11 in die rigting van Loskopdam gery het, is ook trakteer op een na die ander natuurwonder. Die wolke het van rooi na pikswart en soms silwer verander.
