Bejaarde boervrou gearresteer
'n Bejaarde boervrou is Maandagoggend op die plaas gearresteer nadat haar huishulp se seun 'n klag van poging tot moord teen haar geopen het.
Estelle Oberholzer (72), wat op ‘n plaas in die Elandslaagte omgewing bly, word daarvan beskuldig dat sy probeer het om die seun, wat nie geïdentifiseer mag word nie omdat hy nog minderjarig is, te skiet.
Me. Oberholzer vertel egter ‘n ander verhaal. Volgens haar was daar ‘n onderonsie tussen die seun en haar man, Jan. Die seun het vakansietye by hulle gewerk. Hulle het hom ook gehelp om ‘n skootrekenaar te koop en om ‘n internet modem te bekom om sy Graad nege studies te vergemaklik.
Hy was glo woedend omdat hulle hom nie onlangs wou help om aansoek vir krediet vir luidsprekers by OK Furniture te doen nie. Verlede Vrydagoggend het hy op die plaas opgedaag en aanhoudend aan mnr. Oberholzer geskree “I want my money! I want my money!”
Me. Oberholzer, wat op daardie stadium in die huis was, het die geskree gehoor en na buite gestap. Mnr. Oberholzer en die seun het sowat 50 meter ver by die werf se hek gestaan. Die seun het ‘n voorwerp in sy hand gehad en dreigend nader aan mnr. Oberholzer gestap.
Dit het me. Oberholzer genoop om ‘n waarskuwingskoot af te vuur. Sy beweer dat haar wapen na die grasperk langs haar gerig was.
Die klaer beweer egter dat hy gehoor het hoe die patroon verby sy kop fluit.
“Hoe sal ek dan in die rigting skiet waar my man staan? Hy en my man het by mekaar gestaan. Ek sou dit tog nooit gedoen het nie,” meen me. Oberholzer.
Sy is Maandag deur twee speurders na Middelburg gebring waar sy ure by die speurtak deurgebring het, voordat sy na middagete na die aanklagkantoor geneem is om amptelik aangekla te word.
Haar man en ‘n vriendin is terug plaas toe om haar vuurwapenlisensie en identiteitsboekie te gaan haal. Hulle kon dit nêrens kry nie. Daar was tekens dat iemand in die huis was. ‘n Tjekboek wat gewoonlik weggebêre is, het op die grond gelê.
Me. Oberholzer se vuurwapenlisensie en ander kaarte was skoonveld, asook geld wat sy op die plaas gehou het vir onvoorsiene uitgawes.
Me. Oberholzer se dogter het van Johannesburg af gery om haar te kom bystaan. Met ‘n groot gesukkel is me. Oberholzer, nadat sy ure in die aanhoudingselle spandeer het, laat Maandagaand op borg vrygelaat.
“Toe hulle my kom haal, het ek vir hulle gesê hulle moet my in die selle los. Ek was besig om vir twee Zimbabwiese vroue oor God te vertel. Die Here het ‘n doel met alles wat Hy doen,” het me. Oberholzer Dinsdag gesê.
Sy het Dinsdag in die hof verskyn en haar saak is uitgestel tot 29 Desember vir vertoë.
Mnr. Oberholzer het intussen ‘n klag van aanranding by die polisie geopen en mev. Oberholzer een van diefstal.
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!

