Angelique Myburgh (19) moes steke aan haar agterkop kry en behandeling ontvang in die Middelburg Hospitaal nadat sy op die hoek van Kogel- en Jack Hindonstraat aangeval is.
Volgens haar ma, Dassie, het sy en Angelique “woorde gehad” en het Angelique besluit om saam met haar vriend, Johan du Toit, ‘n entjie te gaan stap.
Die twee het net ‘n klein entjie gestap toe hulle ‘n lawaai by ‘n huis hoor.
‘n Jong man het vir hulle geskree: “wat soek julle in die straat? Kom julle k..k maak?”
Johan en Angelique het hulle verseker hulle stap net ‘n entjie en het aangehou loop.
‘n Ent verder het Angelique vir hom gesê, hulle kan maar omdraai om huistoe te gaan en hulle het weer by die huis verbygestap.
Dieselfde persoon wat voorheen op hulle geskree het, het weer begin skree. Dié keer het hy vir sy familie op die perseel geskree:
“Kom help! Hulle wil moeilikheid maak.”
Die persoon wat so geskree het en sy pa het hulle in die straat kom konfronteer, waarop die ouer man vir Angelique met iets oor die kop geslaan het. Een van hulle het Johan omgestamp en met ‘n skokstok probeer bykom.
Johan het opgespring en agtergekom dat die skokstok se batterye waarskynlik pap is. Toe hy opkom, het hy in afgryse gesien hoe die mans vir Angelique ook skop terwyl sy op die grond lê.
Angelique se ma-hulle het die kabaal in die straat naby hul huis gehoor en hulle na die toneel gehaas.
“Dit was verskriklik. Hier lê jou kind op die grond, wat doen ‘n mens? Hoe kon hy ‘n kind net so aanval?”
Die radiogroeplede van Sektor drie het intussen van die voorval gehoor en het soontoe gejaag.
Me. Myburgh het haar dogter opgehelp en stadig saam met haar begin aanstap huistoe.
Net etlike treë verder het Angelique egter inmekaar gesak en het hulle die bloed agter haar kop gesien. Hulle het haar na die Middelburg Hospitaal geneem, waar die kopwond met steke geheg moes word.
• Die drama was egter nie op ‘n end nie. Terwyl die radiogroeplede op die toneel aan die buitekant van die erf vir die polisie gewag het, wou die ouer man (wat die meisie oor die kop geslaan het) terug die straat in. Sy twee seuns het hom egter probeer keer, waaorp hy op ‘n stadium ‘n mes uitgepluk het.
Voor die radiogroeplede se oë het ‘n vuisgeveg tussen die man en sy twee seuns uitgebreek. Die radiogroeplede kon nie in die erf ingaan sonder toestemming nie en moes toekyk hoe die driestuks mekaar toetakel.
• Die man wat daarvan beskuldig word dat hy die meisie oor die kop geslaan het, is Saterdag gearresteer en ‘n klagte van aanranding word ondersoek. Sy naam word weerhou omdat hy teen druktyd nog nie in die hof verskyn het nie





